
Ter aansluiting by ons vorige artikel oor ’n algemene volmag en handelsonbevoegdheid, bespreek ons graag ’n paar wetlike alternatiewe opsies in stede van ’n volmag wat verval sodra die volmaggewer handelsonbevoeg word.
- Die Meester van die Hooggeregshof kan ‘n Administrateur ingevolge die Wet op Geestesgesondheidsorg aanstel vir persone met ‘n geestesongesteldheid of ernstige intellektuele gestremdheid en nie in staat is om hul eiendom en finansiële sake te bestuur nie. Dis ’n goedkoper, eenvoudiger en vinniger proses as ’n aansoek by die Hooggeregshof om ’n Kurator aan te stel. Die Administrateur het die bevoegdheid om met die eiendom van die handelsonbevoegde persoon te handel en is meer van toepassing op kleiner, eenvoudiger boedels.
- Die Hooggeregshof kan ‘n Kurator Bonis aanstel om ‘n persoon se boedel te bestuur. Die aansoek steun op mediese bewyse van ongeskiktheid en kan ’n langdurige en duur proses word. Dit is ook meer gepas by persone met groter, ingewikkelde boedels wat besighede, trusts ensovoorts insluit of waar litigasie betrokke is.
- ’n Inter Vivos trust kan geskep word terwyl die persoon nog handelsbevoeg is om sy/haar bates daarin te plaas sodat Trustees dit kan bestuur indien die persoon/stigter van die trust kapasiteit verloor. Die struktuur sal verseker dat daar steeds vir die persoon en sy geliefdes/nageslagte gesorg kan word en sy/haar bates sonder enige onderbreking bestuur kan word.
Die gebruik van ‘n volmag nadat kapasiteit verlore gegaan het, stel almal bloot aan risiko. Transaksies kan verwerp word en die gevolmagtigde kan vir optrede sonder magtiging, persoonlik aanspreeklik gehou word. Die aanstelling van ‘n Administrateur of Kurator, daarenteen, gee duidelike en wetlike gesag en ‘n raamwerk vir aanspreeklikheid wat die kwesbare persoon teen finansiële misbruik beskerm.
Kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za met enige navrae of vir hulp.
