
Voordele wat ’n testamentêre trust onder andere bied is:
- Die beskerming en bewaring van bates.
- Langtermyn finansiële sekuriteit.
- Moontlike belastingvoordele.
- Aanpasbaarheid met betrekking tot behoeftes en omstandighede.
Oorweeg gerus ‘n testamentêre trust met u boedelbeplanning om die volgende aan te spreek:
- Die bestuur van die erfenis van ’n minderjarige persoon tot meerderjarige ouderdom of ouer in die beste belang van die betrokke erfgenaam en om voorsiening te maak vir sy/haar onderhoud, opvoeding en algemene lewensonkoste. Die algemene konsensus is dat ’n persoon van 18 jaar nog nie verantwoordelik genoeg is om sy/haar erfenis te ontvang en self te bestuur nie en dat die ouderdom van 25 jaar meer gepas is, maar dit verskil van persoon tot persoon.
- Die bestuur van die erfenis van ‘n bejaarde persoon (bv. gades en ouers), lewenslank, in die beste belang van die betrokke erfgenaam en om voorsiening te maak vir sy/haar onderhoud en algemene lewensonkoste. Dit spreek ook problematiese algemene volmagte aan, want in Suid Afrika verval ’n volmag onmiddellik sodra die volmaggewer onbekwaam of verstandelik ongeskik word en dan moet die Hooggeregshof ’n Kurator of Administrateur aanstel om die persoon se sake te behartig. Die Artikel 4(q) korting om boedelbelasting te bespaar kan ook steeds aangewend word indien die bewoording korrek is.
- Die bestuur van die erfenis van ’n gestremde persoon, ‘n dwelm/alkoholverslaafde persoon of enige ander ’n persoon wat na verwagting nie verantwoordelik met sy/haar erfenis kan handel nie, lewenslank of tot rehabilitasie, in die beste belang van die betrokke erfgenaam en om voorsiening te maak vir sy/haar onderhoud, algemene lewensonkoste en spesiale behoeftes.
- Die behoud van bates vir generasies (kinders, kleinkinders, ens.), die vaspen van bategroei in die trust om verdere groei in die boedels van erfgename te stuit en die beskerming van bates teen krediteure en swak koopgewoontes.
Die trustees van die testamentêre trust verkry beheer oor die bates, waarna hulle dit moet bestuur en administreer in terme van die bepalings van die testamentêre trust in die beste belang en tot voordeel van die begunstigdes.
Aangesien die oprigter(s) van die trust oorlede is, sal hy/sy geen invloed hê op die uitoefening van die diskresie van die trustee(s) nie, maar ‘n brief van wense kan aan die trustee(s) nagelaat word wat as riglyn dien.
Kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za met enige navrae of vir hulp.
