
Die verkoop of koop van onroerende eiendom uit ‘n oorlede boedel kan soms lank duur en neem gewoonlik langer om af te handel in vergelyking met ‘n ‘normale’ registrasie van oordrag.
Die volgende faktore moet in ag geneem word by die verkoping van eiendom wat deel vorm van ‘n boedel:
- Slegs die eksekuteur kan ‘n mandaat aan ‘n eiendomsagent(e) uitreik om enige eiendom te bemark;
- Die eksekuteur kan slegs ‘n verkoopooreenkoms aangaan sodra hulle in besit is van die Eksekuteursbrief wat deur die Meesterskantoor uitgereik is;
- Alhoewel dit realisties tussen 3 weke tot 3 maande behoort te neem vir ‘n boedel om geregistreer te word en ‘n eksekuteur om dus formeel aangestel te word is daar om verskeie redes buite die beheer van eksekuteure vertragings wat daartoe lei dat dit 3 maande en selfs langer kan neem vir ‘n eksekuteur om aangestel te word;
- Enige verkoopooreenkoms wat aangegaan is na sterfdatum en voor die uitreiking van die Eksekuteursbriewe deur die Meesterskantoor, is nietig en van geen krag nie, maar dit is belangrik om kennis te neem dat sterfte nie ‘n kontrak beëindig nie. Dit beteken gevolglik dat indien ‘n persoon voor sterfdatum ‘n verkoopooreenkoms sluit, is die koopkontrak afdwingbaar op die eksekuteur van die boedel, mits die koper uit eie keuse van voorneme is om nie voort te gaan met die transaksie nie;
- Al die erfgename in die boedel moet skriftelike toestemming gee vir die verkoop van die onroerende eiendom;
- Dan is die transaksie weer in die hande van die Meesterskantoor wat die volmag om transport te gee moet endosseer, m.a.w. goedkeuring moet verleen tot verkoping van die eiendom uit die boedel en weerens kan dit enige iets van 3 weke tot 3 maande en selfs langer duur;
- Teen hierdie agtergrond is enige verkoopooreenkomste t.o.v. verkopings uit boedels onderhewig aan die volgende voorwaardes: “Skriftelike goedkeuring deur die erfgename en toestemming deur die Meester van die Hoë Hof”.
Die opbrengs van die verkoop van die onroerende eiendom word deur die oordragprokureurs in die oorledene se boedel se bankrekening inbetaal, wat deur die eksekuteur of agent wat namens die eksekuteur optree, geopen moet word.
Indien dit dus die behoefte is dat eiendom in die korttermyn verkoop sal word, maak dit uiteraard beter sin om eerder die eiendom uit die boedel te verkoop en sodoende ook die oordragskostes uit die boedel aan die erfgename te bespaar.
Indien die verkoping van die eiendom egter nie prioriteit is nie, is dit teen die agtergrond van vertragings met verkopings uit boedels nie noodwendig onwys om eerder die eiendom uit die boedel oor te dra nie (‘n redelike eenvoudige transaksie met minimale, indien enige, vertragings) en dan kan die erfgename rustig besin oor die verkoop van die eiendom, ten spyte van die oordragskostes wat uit die boedel betaalbaar was.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za.
