VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIREKTEURE GEDURENDE DIE COVID-19 KRISIS

fhbc_rocketmailer_nov_01_13

As Direkteur van ‘n besigheid, moet ‘n persoon eerstens aan die hoë standaarde van gedrag voldoen wat deur die Maatskappywet (Wet 71 van 2008) en die Akte van Oprigting van die maatskappy gestel word.  Veral in hierdie krisis-tyd waarin Suid-Afrikaanse besighede tans gewikkel is, is dit noodsaaklik dat Direkteure met erns ag slaan op hulle verantwoordelikhede en die gevolge van die nie-nakoming daarvan, naamlik potensiële persoonlike, siviele en/of kriminele aanspreeklikheid.

Artikel 66(1) van Die Maatskappywet (“die Wet”) bepaal:  die bedrywighede en sake van ‘n maatskappy moet bestuur word deur (of onder die leiding van) sy direksie, wat die gesag het om al die bevoegdhede uit te oefen en enige van die funksies van die maatskappy te vervul, buiten in die mate wat hierdie wet of die Akte van Oprigting (MOI) van die maatskappy bepaal.

Indien ‘n direkteur sou versuim of nalaat om die verantwoordelikhede na te kom, kan die direkteur potensieel aanspreeklik gehou word.

Die benadering wat deur Die Wet gevolg word, is dat indien ‘n direkteur versuim om sy verantwoordelikhede na te kom, hy persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir enige verliese van die maatskappy.

Onder normale omstandighede kan hierdie verantwoordelikheid uitdagend wees, maar in die ongewone en baie moeilike Covid-19 krisistyd waarin besighede hul tans wêreldwyd bevind, is die uitdaging soveel meer en die risiko’s soveel groter.

Dit is dan juis in hierdie tyd dat Direkteure bewus moet wees van die belangrike aspekte van hul verantwoordelikhede en die nodige stappe neem om te verseker dat hulle in alle opsigte ten volle voldoen aan die vereistes soos in die Wet voorsien, aan die Akte van Oprigting van die maatskappy, sowel as aan enige amptelike tussentydse regulasies en maatreëls wat ingestel is as gevolg van die Covid-19 Pandemie.

Ons bied graag ‘n kort oorsig oor van die belangrikste aspekte soos in die Maatskappywet voorsien, waarvan Direkteure moet kennis neem:

  • Artikel 66(1) van die Wet bepaal dat die bedrywighede en sake van ‘n maatskappy bestuur moet word deur, of onder die leiding van sy direksie, wat die gesag het om al die bevoegdhede uit te oefen en enige van die funksies van die maatskappy te vervul, buiten in die mate wat die Wet of die Akte van Oprigting (MOI) van die maatskappy bepaal.Dit is dus die verantwoordelikheid van die Direkteure van die maatskappy om die maatskappy te bestuur en te lei gedurende die krisis-tyd en na die beste van hul vermoë die nodige te doen, sodat die besigheid die krisis en meegaande ekonomiese druk oorleef.
  • In terme van Artikel 76(3) van die Wet moet ‘n Direkteur van ‘n maatskappy, wanneer hy in daardie hoedanigheid optree en die bevoegdhede uitoefen en die funksies uitvoer van ‘n direkteur –
    1. (a) in goedertrou en vir ‘n behoorlike doel optree;
    2. (b) in die beste belang van die maatskappy optree; en
    3. (c) met die mate van sorg, vaardigheid en noulettendheid wat redelikerwys verwag kan word van ‘n persoon – (i) wat dieselfde funksies met betrekking tot die maatskappy uitvoer as dié wat deur daardie direkteur uitgevoer word; en (ii) met die algemene kennis, vaardigheid en ervaring van daardie direkteur.
  • Artikel 73 van die Wet bepaal dat Raadsvergaderings by wyse van elektroniese kommunikasie mag plaasvind, tensy die Akte van Oprigting van die maatskappy dit verbied.  Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet Nr. 25 van 2002) bepaal dat elektroniese dokumente en dokumente wat elektronies onderteken word, regserkennig geniet.  Hierdie is baie waardevolle aspekte wat in krisis-tye, veral in die Covid-19 Pandemie geval waar beweging van persone streng beperk word, Direkteure toerus om met hulle take en verantwoordelikhede voort te gaan en te verseker dat die bestuur en leiding van hulle vereis, gehandhaaf word.
  • Artikel 76(4)(b) van Die Wet bepaal dat ‘n direkteur geregtig is om staat te maak op die prestasie van bepaalde persone of komitees wanneer hy ‘n besluit neem ten einde hom in staat te stel om aan die vereistes van Die Wet te voldoen.  ‘n Direkteur kan dus staat maak op:
    1. Een of meer werknemers van die maatskappy wat die direkteur redelikerwys glo betroubaar en bevoeg is ten opsigte van die funksies wat uitgevoer word;
    2. Die inligting, menings, verslae of verklarings wat deur die regsverteenwoordigers, rekenmeesters of ander beroepslui wat deur die maatskappy aangestel is, verskaf word;
    3. Die direksie of direksiekomitee met betrekking tot sake wat vaardigheid of kundigheid behels wat die direkteur redelikerwys glo ter sake is binne die bepaalde persoon se professionele of kundige bevoegdheid, of waarvoor die bepaalde persoon vertroue verdien of ‘n komitee van die direksie waarvan die direkteur nie ‘n lid is nie, tensy die direkteur rede het om te glo dat die optrede van die komitee nie betroubaar is nie.

     

    Dit is dus krities belangrik vir Direkteure om te steun op die kennis en vernuf van hierdie persone om in die krisis-tyd die beste moontlike besluite en optrede in die beste belang van die maatskappy te bewerkstellig.

  • Eweneens is dit belangrik vir Direkteure om te alle tye op hoogte te wees van Regulasies en Direktiewe deur die Regering geїmplementeer wat addisionele verpligtinge en voldoeningsvereistes op besighede kan plaas.  Gebrekkige kennis van tydelike regulasies en maatreëls kan daartoe aanleiding gee dat die maatskappy en werknemers benadeel kan word en die maatskappy skade ly.
    Dit is belangrik dat Direkteure verseker dat die nodige Gesondheids- en Veiligheidsmaatreëls bykomend tot standaardpraktyk toegepas word binne die werksplek om werknemers voldoende te beskerm.
  • Weens die verpligte afsonderingsmaatreëls, die beperkings wat op handel en die beweging van individue geplaas is, is besighede finansieel negatief geaffekteer.  Besighede kry swaar.  Dit is dus krities dat Direkteure voortdurend tred hou met die finansiële posisie van die Maatskappy.  Ag moet geslaan word op die handhawing van gesonde besigheidspraktyke.  Direkteure moet gereeld die maatskappy se finansiële posisie evalueer en verseker dat die nodige stappe geneem word, sou daar bevind word dat die maatskappy nie aan die Solvensie en Likiditeits toets (art 4(1) van die Wet) voldoen nie en/of bevind word dat die besigheid in finansiële nood verkeer.  Volgens Artikel 128(1)(f) van die Wet is ‘n maatskappy in finansiële nood indien (i) dit redelik onwaarskynlik is dat die maatskappy in staat sal wees om binne die onmiddellike daaropvolgende ses maande al sy skulde te kan betaal namate dit betaalbaar raak; of (ii) dat dit redelik waarskynlik is dat die maatskappy binne die onmiddellike daaropvolgende ses maande insolvent sal raak.
  • Indien daar bevind word dat die maatskappy in finansiële nood verkeer moet daar ernstige oorweging geskenk word aan die moontlikheid om die maatskappy onder besigheidsredding te plaas, alternatiewelik skriftelik kennis te gee van die stand van sake aan geaffekteerde persone.
    Indien daar bevind sou word dat die besigheid reeds insolvent is, moet die Direkteure die nodige kennisgewings tot die effek liaseer, en die nodige besluite neem om die besigheid te likwideer.
    In terme van Artikel 214 van die Wet is dit ‘n misdryf indien ‘n persoon bewustelik ’n party was tot— (i) gedrag wat deur artikel 22(1) verbied word.  Artikel 22 van die Wet bepaal dat Roekelose handel verbode is.Hierdie artikel lees as volg: “22. (1) ’n Maatskappy moet nie—

    (a) sy sake roekeloos, met growwe nalatigheid, met die bedoeling om enige persoon te bedrieg of vir enige bedrieglike doel bedryf nie; of (b) onder insolvente omstandighede handel dryf nie.”

    Indien ‘n Direkteur die besigheid van die maatskappy voortsit wetende dat die maatskappy reeds insolvent is, kan daardie Direkteur aanspreeklik gehou word.

  • Waar bepaal moet word of ‘n direkteur met die nodige mate van sorg, vaardigheid en noulettentheid opgetree het of nie, word ‘n direkteur se optrede aan ‘n objektiewe sowel subjektiewe toets gemeet.  Die OBJEKTIEWE TOETS word aangewend ten einde te bepaal hoe ‘n redelike direkteur in dieselfde omstandighede sou optree.  Die SUBJEKTIEWE TOETS word gebruik om die betrokke direkteur se algemene kennis, vaardigheid en ondervinding te bepaal.
    Daar word in Die Wet voorsiening gemaak vir ‘n Sake-Oordeeltoets.  Dit is tot die beskikking van direkteure wat hulle kan aanwend om te bepaal, of te bewys, dat hul optrede nie strydig is met hulle pligte / verantwoordelikhede nie.
    Artikel 76(4)(a) van Die Wet bepaal dat ‘n direkteur sy of haar verpligtinge nakom, indien:

    • Hy of sy redelike noulettende stappe gedoen het om oor ‘n bepaalde saak ingelig te word;
    • Die direkteur, geen of werklike persoonlike finansiële belang by die onderwerp gehad het nie (en geen redelike gronde gehad het om te weet dat enige verwante persoon ‘n persoonlike finansiële belang by die saak gehad het nie) of die belangebotsing geopenbaar het soos vereis in terme van Artikel 75; en
    • Die direkteur rasionele gronde gehad het om te glo, en daadwerklik geglo het, dat die besluit in die beste belang van die maatskappy was.

     

    Direkteure kan dus deurgaans hul optrede toets/meet aan hierdie kriteria om te verseker dat hul optrede voldoen aan die gestelde vereistes.

  • Ter opsomming, is dit dus belangrik dat:
    • Direkteure gereeld raadsvergaderings hou en volledige notules van vergaderings byhou;
    • Tred hou met Covid-19 Regulasies en Direktiewe.  Waar nodig die regte bystand versoek ten einde aan die vereistes daarvan te voldoen en te verseker dat die maatskappy sowel as die werknemers binne die maatskappy beskerm is;
    • Monitor die maatskappy se finansiële gesondheid en neem die nodige mitigerende stappe vroegtydig ten einde die maatskappy se solvensie en likiditeit te beskerm;
    • Kommunikeer vroegtydig en genoegsaam met krediteure en ander belanghebbendes waar die maatskappy finansiële druk ervaar.

Gegewe die ongewone omstandighede en die buitengewone finansiële druk waaronder Direkteure tans hulle van hul taak moet kwyt, is dit belangrik om met groot sorg hierdie verantwoordelikheid uit te voer.  Indien u enige navrae het in hierdie verband of verdere toeligting van die relevante wetgewing benodig, kontak gerus vir Adv. Lorraine Oosthuysen by lorraine@fhbc.co.za.

Source Reference:

Maatskappywet, Wet Nr. 71 van 2008
Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, Wet Nr. 25 van 2002
https://www.ensafrica.com/news/detail/2400/south-africa-coronavirus-electronic-signature/
https://www.nortonrosefulbright.com/en/knowledge/publications/2e249f29/navigating-the-troubled-waters-of-directors-duties-during-covid-19
https://www.werksmans.com/wp-content/uploads/2020/03/Duties-of-directors-FINAL.pdf
https://www.lexology.com/library/detail.aspx?g=77ae7c42-d53c-4e21-b2c8-89d06944046c (Directors’ Duties: A Practical Guide to trading during Covid-19-Part 2)
https://www.bizcommunity.com/Article/196/547/203154.html (Managing a company during Covid-19: SA directors and their duties)
https://www.bizcommunity.com/Article/196/861/203580.html (Covid-19 and downgrades: Director’s duties unpacked)
https://www2.deloitte.com/global/en/pages/about-deloitte/articles/covid-19/stepping-in–the-board-s-role-in-the-covid-19-crisis—deloitte-.html