PERSONEELNUUS

COVID-19 forseer ons om nuut te dink, die lewe in oënskou te neem, die eersdaagse omhelsing van ‘n vriend of vriendin as kosbaar te beskou.  Ons personeel het kantore tuis ingerig en woon, werk en oefen nou tuis.  Twee kollegas het hulle stories oor hulle tuiskantoor en COVID ervaring met ons gedeel:

Amanda Swarts (Belastingbeampte):

2020 en ons kyk na die kalender en maak reeds ‘n paar planne, bespreek plek by die see om saam met die kinders en kleinkinders te kuier vir paasnaweek.  Betaal ons blyplek vir ‘n troue waarvoor ons ‘n uitnodiging ontvang vir 18 April.  Op die kalender word my manlief se golfdae aangeteken, ons lions projekte en vergaderings, die Cederberge fietstoer.

In ‘n oogwink verander alles, want toe kom daar ‘n onsigbare vyand ‘Corona Virus’ en ons is op ‘Lockdown’.

Ons planne verander, ons moet ons huis inrig met die volgende:

Huiskantoor vir twee.  Ja, ek en my manlief gaan saam werk……

Ons huis word ons werksplek, Kerk, tuinroete, wynroete, spa ,Curves, restaurant, huiswinkel vir Manlief se soettand.

Ons kyk nou met ander oë na ons huis.  Dit is alles onder een dak, want ons moet by die HUIS bly.

Met biddende en dankbare harte is ons gesond en moet die beste van ‘n slegte saak maak en ons dink aan ander wat swaarkry in die tyd.

Ons probeer kontak hou om vir ander net ‘n boodskap te stuur op hul foon en mis almal.

Alles sal weer regkom.  Dit gaan net tyd neem en ons moet veilig bly.

xxxxx

amanda_06
Liezl Rabie (Rekenmeester):

Dis vroeg en koud in die hoekie van die gastekamer wat nou my kantoor heet.  Ek maak reg vir die dag met ‘n stomende koppie koffie en tuisgebakte beskuit.  Ek neem ‘n stukkie beskuit en doop dit in die koffie.  Skielik voel ek 6 oë na my staar.  Ek kyk versigtig op.  6 pikswart oë volg die beskuit soos dit beweeg…  Sonder enige vinnige bewegings breek ek dit in twee en sit dit op die bed neer – dadelik verorber die twee honger leeus dit… “Hoekom is julle nou weer so honger” vra ek vir Hachi en Bella, my twee oulike Schnauzers… geen antwoord, net weer ‘n staar na die bakkie.  “PAPPA” skreeu die een in die hok agter my – kode woord vir “waar is myne” – ek neem maar gedwee nog een van my bederfies en sit dit in die pappegaai se hok.  “Is julle nou tevrede” vra ek, “kan mamma maar nou begin werk…”

Dis hoe elke oggend in die FHBC sateliet kantoor by die Rabie-huis begin.  Ek val in die werk en dit raak stil.  Ek hoor net nou en dan ‘n gekners aan papier van die een in die hok en dan die salige gesnork van die twee leeus wat weer lammetjies geword het onder die snoesige bruin kombers.

Etenstyd kom nader en daar is ‘n gekriewel in die lug.  Pedro papegaai maak sagte geluide.  Die lammetjies roer stadig – dan “TOET” kom dit van die hok se kant af en ‘n storm bars los – kombers vlieg en vlerke klap, want ver klink die klank van die vierwiel oppad huistoe – Pappa is by die huis.  Daar is net ‘n gefluit en ‘n geblaf en huil geluide, want ons het vir pappa jare laas gesien.  “Hello hello helllooooo kinders, wag dat pappa net inkom.  Hello Peddie, nekkiekrap?” en Pedro skuif sy bek deur die draad dat pappa sy vere deurmekaar krap.

Ons word weereens aangestaar terwyl ons broodjies eet en koeldrank drink.  Dan is pappa weer weg.

Ons almal vertrek weer na die hoekie toe – darem warmer nou dat die son oorskuif.  Middagskof.  Jy hoor net die klank van die sleutelbord soos ek my dagtaak verrig.  Nou en dan hoor ek of ‘n fluit agter my, en gesnork langs my.  Die tyd stap aan.

Laatmiddag kondig ek aan – “die werksdag is verby” en almal vlieg verlig weer op – VRYHEID – dankie tog, dit was n lang dag…

xxxxx

liezl-rabie_06
‘n Paar foto’s oor waarmee ons personeel besig is: