BEREI VOOR VIR TOEKOMSTIGE ONGESKIKTHEID

fhbc_rocketmailer_nov_01_13

Hoe hanteer ‘n peroon die sake van ‘n ouer of ander geliefde wat die kapasiteit verloor om na sy of haar eie belange om te sien?

Gesinne word van tyd tot tyd gekonfronteer met die emosioneel vermoeiende en moeilike probleem om ‘n familielid, wat nie langer bevoeg is nie, of nie meer oor die kapasiteit beskik om sy of haar eie sake te hanteer nie, by te staan met hul sake. Die oorsaak van die onbevoegdheid of gebrekkige kapasiteit kan fisiek, geestelik of albei wees. Met verhoogde lewensjare verhoog ook die voorkoms van demensie. Tipies val die versorging van bejaardes dan op hul volwasse kind of kinders. Om sodanige sorg te bied, moet die “kind” dikwels toegang tot hul ouer se fondse hê om deurlopende uitgawes te vereffen of om ‘n bate te verkoop om hul ouer te huisves en te versorg. Baie kinders hou in hierdie omstandighede ‘n volmag as bewys voor van hul reg om die ouer se finansies en boedel te bestuur.

Dit is dan hier waar die probleem opduik. Die Volmag waaronder ‘n kind magtiging sou voorhou, word ‘n Voortdurende Volmag (Enduring Power of Attorney) genoem. Ongelukkig is hierdie tipe magtiging waaruit ‘n kind sy of haar magtiging neem, verkeerd en onwettig.

Tipes Volmagte

Ons kan onderskei tussen die volgende tipes volmagte:

  • Algemene Volmag
  • Spesiale Volmag
  • Voortdurende Volmag

‘n Voortdurende Volmag is nie geldig in terme van die Suid Afrikaanse Reg nie. So ‘n Volmag is ongeldig.

Hoekom? In terme van Suid Afrika se regstelsel kan iemand slegs die mag verleen aan ‘n ander persoon om sy sake namens hom te hanteer vir solank as wat die gewer van die mag, self handelingsbevoeg is. Die oomblik wat die gewer van die volmag sy handelingsbevoegdheid verloor, verloor die gevolmagtigde die reg om op te tree in terme van die Volmag.

Dit is dus onwettig vir ‘n gevolmagtigde persoon om in terme van ‘n Volmag op te tree namens iemand anders, wetende dat daardie persoon nie handelingsbevoeg is nie.

Die risiko: Waar gesinspanning verkeer tussen broers en susters of ander familielede ten opsigte van die versorging van ‘n ouer, of die hantering en administrasie van die boedel van die ouer, kan ‘n persoon wat voortgaan om op te tree in terme van die volmag, wetende dat die persoon onbevoeg is, homself blootstel aan regsgeskille, aksies en eise.

Vraag is dan nou: hoe kan ek as ‘n kind voorsiening maak vir die hantering van my ouer se sake waar hy of sy handelingsonbevoeg word?

Daar is ‘n paar opsies:

  1. Benoem ‘n Kurator Bonis en dit kan op 2 maniere geskied:
    1. Gemenereg-prosedure: Aansoek indien by die Hooggeregshof
    2. Aansoek vir die aanstelling van ‘n administrateur (Wet op Geestesgesondheidsorg, Wet Nr. 17 van 2002)
  2. Oprig van ‘n Spesiale Trust
  1. AANSOEK AANSTELLING VAN KURATOR

    HOOGGEREGSHOF
    Die Hooggeregshof kan iemand onbevoeg verklaar om sy eie sake te bestuur, en kan ‘n kurator aanstel om sy sake en / of eiendom te bestuur. Die prosedure hiervoor word uiteengesit in Reël 57 van die Eenvormige reëls van die Hooggeregshof. Enigiemand wat vir so ‘n bevel by die hof wil aansoek doen, moet eers aansoek doen om die aanstelling van ‘n Kurator Ad Litem. Hierdie aansoek is by wyse van kennisgewing van mosie en moet die volgende bevat:

    • Volledige besonderhede van die locus standi (die reg om aansoek te doen) van die aansoeker;
    • Jurisdiksie van die hof;
    • Die ouderdom en geslag van die persoon wat onbevoeg beskou word, volledige inligting oor hul vermoë, en inligting rakende hul algemene gesondheidstoestand;
    • Die verhouding tussen hierdie persoon en die aansoeker, en die duur en intimiteit van hul assosiasie (indien enige);
    • Die feite en omstandighede word as bewys gelewer dat die persoon ongesond is en nie in staat is om sy sake te bestuur nie;
    • Die naam, beroep en adres van die onderskeie persone wat deur die hof as kurator Ad Litem voorgestel is en daarna as kurator Bonis van die persoon se sake of eiendom, en ‘n verklaring dat hierdie persone genader is en aangedui het dat, indien aangestel, hulle in staat sou wees om in hierdie onderskeie hoedanighede op te tree.
       

    Die aansoek moet ondersteun word deur:

    • Verklaring van iemand wat die persoon goed ken, met feite en inligting oor die persoon se mediese toestand. Die verklaring moet ook die verhouding tussen die aansoeker en die persoon uiteensit, en die belangstelling van die aansoeker in die saak;
    • Twee onlangse mediese verslae deur mediese praktisyns, waarvan een (waar prakties moontlik) ‘n psigiater moet wees, wat die afgelope tyd ondersoeke gedoen het om die mediese toestand te bepaal. Die verslae moet die feite bevat oor die toestand en opinies oor die aard, omvang en waarskynlike duur van enige geestesversteuring of gebrek wat waargeneem word. Hulle moet kommentaar lewer op die persoon se onvermoë om sy sake te bestuur. Die mediese praktisyns moenie aan die persoon verwant wees of belang in die saak hê nie.

    Die hof sal dan ‘n kurator Ad Litem (gewoonlik ‘n advokaat van daardie hof) aanstel om die saak volledig te ondersoek en aan die hof en die Meester verslag te doen [reël 57 (4) en (5)]. Die kurator Ad Litem sal ‘n onderhoud voer met die persoon en verdere navrae doen. Hulle sal dan ‘n verslag voorberei en by die registrateur van die Hof indien.

    Die Meester stel ook ‘n verslag saam nadat hy die verslag van die kurator Ad Litem ontvang het, en het aanbevelings aan die hof gemaak oor die meriete van die aansoek, die geskiktheid van die benoemde kurator, hul bevoegdhede en veiligheid [reël 57 (7)]. Na oorweging van die aansoek, die verslae van die Kurator Ad Litem en die Meester, en enige ander tersaaklike inligting, sal die hof die bevel indien nodig uitreik [Reël 57 (10)].

    Wanneer die Hooggeregshof ‘n kurator aanstel om iemand se boedel te administreer, mag hulle nie op daardie aanstelling optree voordat hulle formeel deur die Meester van die Hooggeregshof gemagtig is nie. Artikel 71 van die Boedelwet 66 van 1965 bepaal dat niemand wat genomineer, aangestel of as kurator aangewys is, enige eiendom mag behartig wat aan die persoon onder toesig behoort totdat die magtiging via kuratorskap ontvang is nie.

    Verskillende Tipe Kurators:

    • Kurator ad litem
      ‘n Kurator aangestel vir litigasie doeleindes en hanteer die regsproses – aanstellingsproses van die curator bonis of curator ad personam namens die onbevoegde persoon
    • Kurator bonis
      ‘n Kurator van die boedel en beskerm die onbevoegde persoon se finansiële en eiendomsbelange
    • Kurator ad personam
      ‘n Kurator wat sorg vir die persoonlike daaglikse lewensbehoeftes van die onbevoegde persoon
       

    MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

    Hierdie opsie is beperk tot boedels van persone waar die inkomste van die individu (onbevoegde persoon) nie meer as R24,000 per jaar is nie en die kapitaal nie R200,000 oorskry nie.

    Ingevolge die Wet op Geestesgesondheidsorg kan die Meester van die Hooggeregshof, na oorweging en verwerking van die vereiste aansoek, ‘n administrateur aanstel om die eiendom te bestuur van ‘n persoon wat gediagnoseer is as geestesongesteld of ‘n persoon met ‘n ernstige of diepgaande intellektuele gestremdheid.

    Alhoewel die gemeenregtelike aansoek geskik is vir enige situasie waarin die persoon nie in staat is om sy eie sake te bestuur nie, is hierdie aansoek slegs relevant in geval van ernstige geestesongesteldheid of ernstige ongeskiktheid. Die diagnose moet bevestig word deur mediese sertifikate of verslae deur ‘n praktisyn wat in geestelikgesondheidsorg praktiseer en behoorlik gemagtig is om so ‘n diagnose te maak.

    Aangesien daar nie ‘n hooggeregshofaansoek nodig is vir die aanstelling van ‘n administrateur nie, is die prosedure baie goedkoper as die gemeenregtelike aanstelling van ‘n kurator Bonis.

    Die aansoek kan direk by die Meester van die Hooggeregshof in die betrokke jurisdiksie ingedien word (waar die persoon wat die administrateur benodig woon). Die aansoeker hoef nie ‘n prokureur te gebruik nie, hoewel ‘n goeie gesinsadvokaat se hulp met die indiening van die aansoek by die Meester die taak baie vergemaklik.

    Die aansoekprosedure vir die aanstelling van ‘n kurator ingevolge die Wet op Geestesgesondheidsorg word in artikel 60 van die wet uiteengesit en bepaal soos volg:

    • Enige persoon ouer as 18 kan by ‘n Meester van die Hooggeregshof aansoek doen om ‘n administrateur vir ‘n geestesongestelde persoon of persoon met ernstige of diepgaande intellektuele gestremdheid te wees. 
    • Die aansoek moet skriftelik, onder eed of plegtig bevestig word en moet: 
      1. Die verhouding van die applikant met daardie persoon uiteensit;
      2. Die rede meld waarom die gade of naasbestaandes nie die aansoek gedoen het nie, indien die aansoeker nie ‘n eggenoot of familielid van daardie persoon is nie;
      3. Die stappe beskryf wat geneem is om die naasbestaandes te bepaal voordat hulle die aansoek indien, indien die naasbetsaandes nie beskikbaar is om die aansoek te doen nie;
      4. Alle beskikbare mediese sertifikate of verslae wat verband hou met die geestesgesondheid insluit, relevant tot die persoon se geestesgesondheidstatus en oor hul onbevoegdheid om sy eiendom te bestuur; 
      5. Die redes gee waarop die applikant van mening is dat die persoon nie in staat is om sy eiendom/sake te bestuur nie;
      6. Meld dat die applikant binne sewe dae onmiddellik voor die indiening van die aansoek die persoon gesien het;
      7. Die besonderhede van die persoon en die geskatte eiendomswaarde en jaarlikse inkomste gee;
      8. Die besonderhede en kontakbesonderhede van elkeen wat verdere inligting rakende die persoon se geestelike status kan verstrek gee. 
    • Die aansoeker moet bewys lewer dat ‘n afskrif van die aansoek by die geestesongestelde persoon ingedien is. 
  2. SKEPPING VAN ‘N SPESIALE TRUST

    Die oprigting van ‘n spesiale trust bied ‘n alternatiewe oplossing.  Alhoewel ‘n familietrust gebaseer op die beginsel van verdeling van beheer en genot van die trustbates, ‘n gedeeltelike oplossing kan bied, sou ‘n meer gepaste alternatief die skepping van ‘n sogenaamde Spesiale Trust wat vir die doel geskep is, wees.  

    ‘n Spesiale trust (A-tipe) word in die Inkomstebelasting Wet gedefinieer as: 

    ‘n Trust wat uitsluitlik tot voordeel van een of meer persone geskep word wat persone met ‘n gestremdheid is soos omskryf in artikel 6 B (1), waar sodanige ongeskiktheid die persoon of persone verhoed om voldoende inkomste te verdien vir eie onderhoud of daarvan weerhou om hul eie finansiële sake te behartig. 

    Artikel 6 B (1) omskryf ‘n ongeskiktheid as volg: 
    Gestremdheid beteken ‘n matige tot ernstige beperking van die persoon se vermoë om te funksioneer, of daaglikse aktiwiteite uit te voer as gevolg van fisieke, sensoriese, kommunikasie-, intellektuele of geestelike gestremdheid , indien die beperking langer as ‘n jaar duur, of indien ‘n prognose bestaan dat die beperking vir langer as ‘n jaar mag duur, en gediagnoseer is deur ‘n gemagtigde geregistreerde geneesheer in ooreenstemming met die kriteria soos deur die kommissie voorgeskryf. 

    So ‘n trust moet op die gewone manier geskep word by wyse van ‘n ooreenkoms tussen ‘n stigter en trustee of trustees, waardeur bates aan die trustee(s) oorgedra word om die trust te administreer ten bate van die persoon met ‘n ongeskiktheid.
    ‘n Belangrike aspek van so ‘n trust is dat dit gedurende die lewe van die gestremde persoon uitsluitlik tot voordeel van die betrokke individu moet wees, en slegs op sy of haar afsterwe mag sekondêre begunstigdes voordeel trek uit óf die inkomste óf die kapitaal van so ‘n trust.  Op daardie stadium sal die Trust egter ophou om ‘n spesiale trust te wees. 

    Die voordele van die gebruik van ‘n spesiale trust.

    Die boedel, of ‘n deel van die boedel, van ‘n persoon wat onbevoeg is, sal deur trustees beheer word, maar slegs tot voordeel van die betrokke onbevoegde persoon of persone. Hierdie oplossing oorkom dus die probleme en beperkings om die volmagroete (voortdurende volmag) te volg, sowel as om die lompheid en koste implikasie van ‘n kuratorskap te vermy.

    Die trust en trustee bly onderworpe aan die bepalings van die Trustakte en die Wet op die Beheer van Trustgoedere.  Dit verseker deursigtigheid en aanspreeklikheid, maar sonder die onbuigsaamheid van ‘n kuratorskap.  

    ‘n Verdere voordeel is dat spesiale trusts op ‘n gunstiger basis belas word in vergelyking met ander trusts.  Effektief word hierdie spesiale trusts, indien dit aan die vereistes voldoen, op dieselfde manier as ‘n individu belas (glyskaal), wat beteken dat die belastingkoers wat op ‘n spesiale trust se inkomste toegepas word, nie die hoër vaste koers is wat op ‘n normale trusts toegepas word nie.  Net so sal kapitaalwins onderhewig wees aan die van ‘n natuurlike persoon en die trust sal ook baat by die primêre woning en die jaarlikse waardevermindering. 

    Wat die finansiering van so ‘n trust betref, kan een van die twee gewone metodes gebruik word, naamlik ‘n rentevrye lening óf ‘n donasie.  Die nadeel van rentevrye lenings wat deur die instelling van artikel 7C van die Inkomstebelastingwet teweeggebring is, is egter nie van toepassing nie deurdat hierdie tipe Spesiale Trust ingevolge artikel 7C (5) (c) vrygestel is.  Net so lyk dit asof ‘n spesiale trust nie vooraf belasting op skenkings hoef te betaal nie, as daar verwys word na die onlangse bindende privaatuitspraak van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), BPR306, gedateer 28 Junie 2018. 

    Alhoewel die oplossing van ‘n spesiale trust nie verligting of ‘n lewensvatbare alternatief bied as ‘n individu reeds aan gevorderde ongeskiktheid ly nie, bied dit wel ‘n middel in afwagting van onbevoegdheid in sekere omstandighede en ‘n noodsaaklike meganisme om bejaarde en kwesbare persone te beskerm.

Indien u enige navrae het oor enige van die prosesse hierin beskryf of algemene navrae het oor hierdie onderwerp, kontak Lorraine Oosthuysen by lorraine@fhbc.co.za.

Source Reference:

https://www.cliffedekkerhofmeyr.com/en/news/publications/2018/trusts/trusts-and-estates-alert-13-july-preparing-for-incapacity.html
https://www.abgross.co.za/curatorship-what-does-it-entail/
https://www.abgross.co.za/curatorship-what-does-it-entail/
Income Tax Act 58 of 1962 (as amended)
Taxation Laws Amendment Act 22 of 2012
Rule 57 of the Uniform Rules of the High Court
Mental Health Care Act 17 of 2002