HUWELIKE: DEEL 1

fhbc_rocketmailer_nov_01_13Trou is nie perdekoop nie

Is u en u aanstaande bewus van die implikasie wat huweliksluiting het rakende jul finansiële portefeuljes (en handelsbevoegdheid)?

Agtergrond

Wie ook al gesê het “trou is nie perdekoop nie”, was heeltemal reg. Meeste van ons fokus op die rok, die troukoek, die fotograaf, die blomme, die ligging, wie mag wat sê, wie moet waar sit, ens. . . maar het ons nie dalk die kat aan die stert beet nie?

‘n Mens sou dink dat ons in 2020 ‘n holistiese benadering tot die huwliksluiting in plek het, maar vir die meeste paartjies is dit nie die geval nie, want het u en u bruid of bruidegom al gesels oor jul finansies en bedoelings in daardie verband? Ongelukkig is baie mense se antwoord hierop is iets soos:

“Nee, ons wil nie ons huwelik begin met die beplanning van die einde nie.” of “Nee, wat bedoel jy?” of “Nee, ons deel alreeds alles, niks gaan werklik verander nie – die huweliksluiting is net ‘n stuk papier.”

Onthou, die bedoeling of rede agter hierdie vraag is nie hoofsaaklik gekoppel aan die ongelukkige beëindiging van die huwelik weens egskeiding nie.

Die rede waarom dit belangrik is om jul finansiële portefeuljes vooraf te bekyk en om dienooreenkomstig jul bedoelings en planne op skrif te stel, is omdat dit verband hou met alledaagse risikos, gebeure en ongelukke. Gebeure soos die skielike afsterwe van een van julle, gevreesde siektes, werkloosheid, insolvensie, ‘n motorongeluk wat u of u eggenoot bewusteloos laat.

Om 100% oop en met opregte gemoedsrus die huwelik te kan betree verg dit meer as net die perfekte troudag. Dit verg ingeligte besluitneming om mekaar teen hierdie genoemde onbeplande gebeure te kan beskerm en sodoende te verseker dat julle op dieselfde bladsy is.

Wat het my huwelik te doen met hierdie tipe risiko’s?

Dit is alombekend dat meeste argumente tussen huweliksmaats oor geld en ander finansiële besluite gaan en soms ook eindig in egskeiding. Daarom is dit een van die mees belangrike gesprekke om met u aanstaande te hê en om oor jul individuele finansiële posisies en meer spesifiek, om oor jul afsonderlike ingesteldhede oor finansies te gesels.

Dit is baie belangrik om tydens die huwelik individueel u boedel op te bou en om bewus te wees van mekaar se aktiwiteite, om sodoende onaangename verrassings te voorkom. Hierdie gesprek behoort, onder andere, die volgende vrae/onderwerpe te dek:
  • Was u bewus van u ouers se benadering oor finansiële beplanning en indien u was – hoe het dit gewerk en stem u met daardie benadering saam?
  • Het u u eie begroting, indien wel, is u begroting effektief?
  • Het u enige skuld (bv. studielenings, motor finansiering, kredietkaarte, klererekeninge, ens.) en wat kos dit u per maand?
  • Voorsien u finansiële bystand aan iemand anders (ouers, kinders vanuit vorige huwelik, vorige gade, ens.)?
  • Het u reeds ‘n lewensversekeringspolis (en of ander polisse)?
  • Het u enige bates, geregistreer in u naam (bv. eiendom, motor, belang in ‘n besigheid ens.)?
  • Watter ander maandelikse debiet aftrekkings het u?
  • Hoe gaan ons ons finansies benader en ons boedels onderhou?
  • Watter finansiële veranderings gaan ons moet aanbring?

Verder – die tipe huweliksgoederebedeling (die tipe huwelik) wat julle kies, het ‘n direkte invloed op jul finansiële portefeuljes, waarvan julle bewus moet wees. Daarom is dit belangrik dat ‘n mens iemand, hetsy ‘n finansiële of regsadviseur, behoort te nader wat kan help met hierdie belangrike besluite (terwyl u en u bruid of bruidegom die spesiale tyd voor jul troudag kan geniet).

Onderaan is ‘n bondige opsomming van die verskillende huwelike in Suid-Afrika:
  • Burgerlike Huwelike
    Die mees algemene huwelikstipes is die drie burgerlike huweliksoorte naamlik, binne gemeenskap van goedere; buite gemeenskap van goedere, met die aanwasbedeling en buite gemeenskap van goedere, sonder die aanwasbedeling. Burgerlike huwelike geniet regserkenning in Suid-Afrika, in terme van die Wet op Huwelike Nr. 51 van 1970 en die Huweliksgoederewet Nr. 88 van 1984.
    • Binne Gemeenskap van Goedere
      Hierdie huwelikstipe behels dat die gades ‘n gesamentlike boedel het. Dit beteken dat, alles wat die een gade besit het en gaan besit, ook aan die ander gade behoort. Elke gade besit dus 50% van die gesamentlike bates (én laste). Dus is die gades ook gesamentlik verantwoordelik vir mekaar se skuld. ‘n Risiko in hierdie geval, is dat indien een van die gades insolvent verklaar word, mag daar ook beslag gelê word op die solvente gade se bates, wat dus beide partye se bates in gevaar stel. Deur binne gemeenskap van goedere getroud te wees, beperk dit ook ‘n huwelikspaartjie se handelsbevoegdheid (vir meer inligting hieroor, lees gerus een van ons vorige artikels, deur Adv Lorraine Oosthuysen https://www.fhbc.co.za/2018/12/04/kontrakte-deel-1-die-belangrikheid-van-kontrakte/). Hierdie huweliksoort is die outomatiese opsie, indien die partye nie by wyse van ‘n huweliksvoorwaardekontrak ‘n ander huwelikstipe kies nie.
    • Buite Gemeenskap van Goedere met die Aanwas
      Die “Buite Gemeenskap van Goedere” tipe huwelike kan gesien word as die teenoorgestelde as die “Binne gemeenskap van goedere” bedeling. In hierdie geval – bly die man se bates en laste uitsluitlik syne en dieselfde geld vir die vrou. Die huwelikspaartjie oefen hul keuse uit om hierdie tipe huwelik te kies deur ‘n huweliksvoorwaardekontrak te laat opstel. Voordeel hier, is dat indien een van die gades insolvent verklaar sou word – daar nie op die solvente gade se bates beslag gelê mag word nie (alhoewel die bewys van eienaarskap ten opsigte van die solvente gade se bates, versoek mag word).

      Wat beteken “aanwasbedeling”?
      Die aanwasbedeling is ‘n stelsel wat gebruik word wanneer gades besluit om hul eie eiendom (bates en laste) soos op die datum van huweliksluiting te behou, maar ooreenstem om dit wat hulle deur die loop van hul huwelik bekom, te deel. Hierdie verdeling vind eers plaas by die beëindeiging van die huwelik (bv. by die dood van ‘n gade of deur egskeiding). Die verdeling word bereken deur die kleiner groeiwaarde af te trek vanaf die groter boedel se groeiwaarde, en dan in twee te deel. Die gade met die kleiner groei is dan geregtig op die helfte van die verskil tussen die twee groeiwaardes.
    • Buite Gemeenskap van Goedere sonder die Aanwas
      Hier bly die man se bates en laste én sy aanwas (groei) uitsluitlik syne, en dieselfde ten opsigte van die vrou se bates, laste en aanwas geld. Daar is dus geen verdeling van die groeiwaardes van die gades nie. Net soos in terme van ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere met die aanwas – moet die huwelikspaartjie hul keuse om hierdie tipe huwelik te kies uitoefen deur ‘n huweliksvoorwaardekontrak te laat opstel. Wat sekwestrasie betref – aangesien elke party sy of haar bates en laste afsonderlik besit, is die solvente gade se bates veilig, maar soos hier bo genoem, mag die bewys van eienaarskap, ten opsigte van die solvente gade se bates, versoek word.
  • Burgerlike Verbintenisse
    ‘n Burgerlike verbintennis word gesluit tussen twee persone (hetsy heteroseksuele of homoseksuele paartjies) en geniet regserkenning in Suid-Afrika, in terme van die Civil Union Act No. 17 of 2006. Die twee partye moet ook albei 18 jaar of ouer wees. Lewensmaats wat trou in terme van die bovermelde wet, geniet presies dieselfde beskerming soos burgerlike huwelike en hulle het dieselfde drie huweliksgoederebedelings om van te kies.
  • Saamwoonverhoudings
    Daar is verskeie vorms van saamwoonverhoudings. Gewoonlik verwys dit na ‘n permanente en stabiele monogame verhouding tussen twee mense wat óf verkies om nie te trou nie óf nie kan trou nie, maar dieselfde verantwoordelikhede en pligte as ‘n getroude paartjie deel. Saamwoonverhoudings geniet geen regserkenning of beskerming in Suid-Afrika nie. Hierdie verhoudings kwalifiseer nie as ‘n soort gewoontereghuwelik nie, ook nie as ‘n burgerlike verbintenis nie. Let wel – sogenaamde “common law marriages” wat behels dat paartjies wat vir ‘n sekere tydperk (gewoonlik vyf jaar) saamwoon, outomaties na die afloop van byvoorbeeld, die vyf jaar, geag word om wettiglik getroud te wees – geld nie in Suid-Afrika nie.

    Hoe kan partye in ‘n saamwoonverhouding hulself beskerm
    ?
    Lewensmaats kan ‘n kontrak laat opstel wat die voorwaardes ens. ten opsigte van hul verhouding saamvat. Om hierdie kontrak afdwingbaar te maak kan hulle by ‘n Hoë Hof aansoek doen om die kontrak te bekragtig (‘n bevel van die hof te maak).Hou ons volgende artikel in hierdie reek oor huwelike dop vir meer inligting rakende die aard van so ‘n verhouding in regsterme, die regte en pligte van die partye en wat in hierdie tipe kontrakte behoort te staan.
Ten slotte

Om ‘n lewensmaat te kon vind is reeds ‘n groot voorreg en om te trou is ‘n groot stap in ‘n mens se lewe. Maak gebruik van u regs- of finansiële adviseur om u en u aanstaande te help om ingeligte besluite te neem wat voorsiening sal maak om júl regsposisies en finansies se beste belange eerste te stel.

Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Chantél van der Merwe by c.vandermerwe@fhbc.co.za

Source Reference:

Wet op Huwelike Nr. 51 van 1970

Huweliksgoederewet Nr. 88 van 1984

KEN U REGTE: ’n Maklike Gids tot Huwelike en Verhoudings
http://wlce.co.za/wp-content/uploads/2017/02/WLC-marriage-book-AFRK.pdf

Getting Married – South African Government
https://www.gov.za/services/services-residents/relationships/getting-married