AFKOELREGTE EN -PERIODES MET DIE AANGAAN VAN OOREENKOMSTE

fhbc_oct_nuusbrief_01_17U as Verbruiker beskik oor afkoelregte met die aangaan van sekere ooreenkomste.  Ken u u regte?  Ons kyk hier na verskillende wetgewing ter verduideliking van die Afkoelreg.

‘n Afkoelreg beteken dat ‘n verbruiker (of koper) na kontraksluiting ‘n tydperk het om oor die kontrak na te dink.  Indien die verbruiker in die tydperk die kontrak wil kanselleer, mag dit gedoen word, sonder enige benadeling.  Dus kan ‘n kontrak in terme van ‘n geldige afkoelreg, deur ‘n verbruiker, eensydig beëindig word sonder dat daar kontrakbreuk plaasvind.

Daar word in die Suid Afrikaanse Reg voorsiening gemaak vir Afkoelregte om die belange en regte van verbruikers te beskerm.  Verbruikers voel soms hulle het oorhaastig opgetree en is spyt oor die ooreenkomste aangegaan of produkte aangekoop en word daar voorsiening gemaak vir die reg van so ‘n verbruiker om “af te koel” of te “besin” oor die aankoop en dan ‘n afkoelreg of besinningsreg uit te oefen.  Daar word in Suid Afrikaanse wetgewing spesifiek voorsiening gemaak vir die afkoelreg van ‘n verbruiker, naamlik in die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet Nr. 68 van 2008), die Nasionale Kredietwet (Wet Nr. 34 van 2005) en die Wet op Vervreemding van Grond (Wet Nr, 68 van 1981).

A. Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming (die “WVB”) bied omvattende beskerming aan verbruikers en dek alle aspekte van die verhouding tussen die verbruiker en verskaffers en hou verskeie implikasies in vir produsente, vervaardigers, verwerkers en handelaars.  Die WVB beskerm verbruikers wat natuurlike sowel as regspersone is.  (Regspersone wat ‘n jaarlikse omset van meer as R2 miljoen het, of oor bates van meer as R2 miljoen beskik, is uitgesluit as verbruikers vir doeleindes van die WVB en is hierdie groep uitgesluit van die beskerming wat die WVB bied.)
Die WVB maak spesifiek vir 9 verskillende regte van die verbruiker voorsiening.  Een van hierdie regte is die reg van die verbruiker om te kan kies (om ‘n keuse uit te oefen en is ook ‘n Fundamentele Reg).

Artikel 16 van die WVB bepaal as volg:

Verbruiker se reg op afkoeltydperk na direkte bemarking.

  1. Hierdie artikel is nie van toepassing op ’n transaksie indien artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies daarop van toepassing is nie.
  2. In die mate waarin hierdie artikel op ’n transaksie of ooreenkoms van toepassing is, is dit bykomstig tot en nie ter vervanging van ’n reg om ’n transaksie of ooreenkoms terug te trek wat andersins regtens tussen ’n verskaffer en ’n verbruiker bestaan nie.
  3. ’n Verbruiker kan ’n transaksie wat uit direkte bemarking voortspruit, sonder rede of boete terugtrek, deur op skriftelike of ander aangetekende wyse of vorm kennis aan die verskaffer te gee, binne vyf (5) besigheidsdae na die laatste van die datum waarop—
    (a)    die transaksie of ooreenkoms aangegaan is; of
    (b)    die goedere wat die onderwerp van die transaksie vorm aan die verbruiker gelewer is.
  4. ’n Verskaffer moet—
    (a)    ’n betaling van die verbruiker ingevolge die transaksie ontvang, teruggee binne 15 besigheidsdae nadat
    (i)     kennisgewing van die terugtrekking ontvang is, indien geen goedere ingevolge die transaksie aan die verbruiker gelewer is nie; of
    (ii)    goedere verskaf ingevolge die transaksie van die verbruiker ontvang is; en
    (b)    nie poog om ’n betaling ingevolge ’n teruggetrekte transaksie te vorder nie, behalwe soos ingevolge artikel 20(6) toegelaat.

Uit bogemelde is dit duidelik dat die besinningsreg (of afkoelreg) wat artikel 16 hierbo skep, uitvloei uit ‘n kontrak wat die gevolg moet wees van “direkte bemarking”.  Die afkoelperiode is vyf (5) besigheidsdae (Saterdae en Sondae, sowel as publieke vakansiedae is uitgesluit) vanaf die aangaan van die ooreenkoms of ontvangs van die goedere, afhangende van watter gebeurtenis laaste plaasvind.  Kennis van die kansellasie van die kontrak moet binne die 5 dae periode op die voorgeskrewe wyse gegee word deur die verbruiker, en die verskaffer moet alle gelde ontvang in terme van die ooreenkoms binne die voorgeskrewe 15 besigheidsdae aan die verbruiker terugbetaal.  Daar is ook in terme van die WVB ‘n plig op die verbruiker om die goedere verkry onder die gekanselleerde kontrak aan die verskaffer terug te besorg.  Artikel 20 maak voorsiening vir die teruggawe van goedere aan die verskaffer (die verbruiker moet die goedere binne 10 besigheidsdae vanaf kansellasie van die kontrak en op eie koste en risiko aan die verskaffer terug besorg (artikel 20(4)(a)) en bepaal ook dat daar in sekere omstandighede van die verbruiker ‘n som geld geëis/verhaal mag word indien die goedere terug besorg, van so aard is dat dit reeds gebruik is en of hernu of herstel moet word.

Konsessie-ooreenkomste (Franchise Agreements) moet ook aan die vereistes van die WVB voldoen.  Die WVB definieer ook konsessiegewers (Franchisors) as verskaffers en konsessiehouers (Franchisees) as verbruikers.

’n Baie belangrike verandering wat hier plaasgevind het is die vereistes wat in die Regulasies van die WVB gestel word dat elke konsessie-ooreenkoms ‘n klousule moet bevat wat die konsessiehouer die reg gee om binne tien (10) dae na ondertekening van die ooreenkoms, die ooreenkoms sonder enige koste of boete, eensydig te kanselleer.  Die konsessiehouer moet die kansellasie skriftelik aan die konsessiegewer gee in terme van die bepalings van artikel 7(2) van die WVB.

Interessant om op te let dat die WVB ook sekere ander voorskrifte met betrekking tot Konsessie-Ooreenkomste bevat.  Artikel 13 bepaal dat ‘n konsessiehouer oor die reg beskik om sy eie verskaffers te kies en mag dit nie voorgeskryf word deur die konsessiegewer nie.  Artikel 21 verbied die ongevraagde voorsiening van goedere aan die konsessiehouer.

Onthou gerus dat artikels 7 en 51 saamgelees met Regulasie 2 van die WVB baie spesifieke reëls neerlê ten opsigte van die inhoud van Konsessie-Ooreenkomste.  Nie-voldoening aan die reëls neergelê mag tot gevolg hê dat ‘n Konsessie-ooreenkoms gedeeltelik of in geheel nietig kan wees.

B. Die Nasionale Kredietwet

Die Nasionale Kredietwet (die “NKW”) maak ook voorsiening vir ‘n afkoelreg (reg om ‘n ooreenkoms nietig te verklaar), maar is beperk tot sekere spesifieke transaksies.  Die afkoelreg in terme van die NKW geld net ten opsigte van huurkontrakte van roerende goed en afbetalingsooreenkomste (leases and instalments agreements), waarvan die transaksie gesluit is op ‘n ander plek as die kredietgewer se geregistreerde besigheidsperseel (artikel 121(1) van die NKW).

Die afkoelperiode is vyf (5) besigheidsdae (Saterdae, Sondae en publieke vakansiedae uitgesluit) vanaf die datum waarop die ooreenkoms gesluit is.  Die beëindigingskennisgewing moet skriftelik deur die verbruiker aan die kredietverskaffer gelewer word binne die voorgeskrewe tydperk.  Indien die afkoelreg uitgeoefen word is die partye verplig om wedersyds terug te gee dit wat hul uit die transaksie ontvang het.  Die kredietgewer het die reg om ‘n bedrag van die verbruiker te vorder ten opsigte van die koste verbonde aan die teruggawe van die saak, ook om die saak weer in ‘n verkoopbare toestand te kry en kan ook redelike huur hef vir die gebruik van die saak deur die verbruiker vir die tyd wat die saak in die verbruiker se besit was.

Artikel 121 van die NKW bepaal as volg:

121. Verbruiker se reg om kredietooreenkoms nietig te verklaar.

  1. Hierdie artikel geld slegs ten opsigte van ‘n huurkontrak of ‘n paaiementooreenkoms aangegaan by enige ander plek as die geregistreerde sakeperseel van die kredietverskaffer.
  2. ‘n Verbruiker kan ‘n kredietooreenkoms binne vyf (5) besigheidsdae ná die datum waarop die ooreenkoms deur die verbruiker onderteken is, beëindig deur—
    (a)    ‘n kennisgewing op die voorgeskrewe wyse aan die kredietverskaffer te lewer; en
    (b)    aan te bied om enige geld of goedere terug te gee, of ten volle te betaal vir enige dienste, deur die verbruiker ten opsigte van die ooreenkoms ontvang.
  3. Wanneer ‘n kredietooreenkoms ingevolge hierdie artikel beëindig word—
    (a)    moet die kredietverskaffer enige geld wat die verbruiker kragtens die ooreenkoms betaal het binne sewe (7) werksdae terugbetaal nadat die kennisgewing van beëindiging gelewer is; en
    (b)    kan die kredietverskaffer betaling van die verbruiker eis vir—
    (i)     die redelike koste daaraan verbonde om enige goedere aan die kredietverskaffer terug te besorg en om dit tot ‘n verkoopbare toestand te herstel; en
    (ii)    ‘n redelike huur vir die gebruik van daardie goedere vir die tydperk wat die goedere in die verbruiker se besit was, tensy daardie goedere in hul oorspronklike verpakking is en dit duidelik is dat hulle ongebruik gebly het.
  4. ‘n Kredietverskaffer aan wie eiendom ingevolge hierdie artikel terugbesorg is, en wat onsuksesvol gepoog het om enige geskil oor waardevermindering van daardie eiendom regstreeks met die verbruiker, en deur alternatiewe geskilbeslegting kragtens Deel A van Hoofstuk 7, te besleg, kan by ‘n hof aansoek doen om ‘n bevel ingevolge subartikel (5).
  5. Indien ‘n hof, by ‘n aansoek ingevolge subartikel (4), tot die gevolgtrekking kom dat die werklike billike markwaarde van die goedere gedurende die tyd dat dit in die verbruiker se besit was, gedepresieer het, kan die hof die verbruiker beveel om die kredietverskaffer ‘n verdere bedrag te betaal wat nie groter is nie as die verskil tussen—
    (a)    die waardevermindering in werklike billike markwaarde, soos deur die hof bepaal; en
    (b)    die bedrag wat die kredietverskaffer geregtig is om die verbruiker te vra ingevolge subartikel (3).

C. Die Wet op Vervreemding van Grond

Artikel 29A van die Wet op Vervreemding van Grond (Wet Nr. 68 van 1981) (hierna “Die Wet” genoem) is in 1998 deur die Wysigingswet op die Vervreemding van Grond (Wet Nr. 103 van 1998) ingevoeg met die bedoeling om aan ‘n koper die reg te verleen om onder sekere omstandighede ‘n aanbod om te koop te herroep of ‘n vervreemdingsakte (verkoopsooreenkoms) te beëindig.  Die doel daarvan is om beskerming te verleen aan ‘n sekere klas kopers of klas voornemende kopers van grond.

Artikel 2(2A) van Die Wet bepaal dat ‘n vervreemdingsakte die reg van ‘n koper of voornemende koper, om in terme van artikel 29A die aanbod te herroep of die vervreemdingsakte te beëindig, moet bevat.  Die doel van die vermelding is om die koper van die bestaan van die afkoelreg bewus te maak, of die bestaan van die reg te erken, maar die bestaan van die reg hang nie af van die feit of die koper kennis dra daarvan of nie.  Die voornemende koper of koper kan nie afstand doen van hierdie afkoelreg nie.  Enige sodanige afstanddoening van die afkoelreg soos verleen in terme van artikel 29A, sal nietig wees.

Die Hof het in die Gowar Investments-saak (Gowar Investments (Pty) Ltd v Section Three Dolphin Coast Medical Centre CC 2006 2 SA 15 (D); 2007 3 SA 100 (HHA)) bepaal dat die nie-nakoming van artikel 2(2A) van Die Wet tot vernietigbaarheid van die vervreemdingsakte na die keuse van die koper kan lei.

Artikel 29A bepaal dat ‘n koper die reg het om binne vyf (5) besigheidsdae vanaf ondertekening daarvan, ‘n aanbod om grond te koop of ‘n vervreemdingsakte te beëindig.  Sodanige beëindiging of herroeping moet skriftelik gedoen word by kennisgewing aan die verkoper of sy verteenwoordiger by sy domisilie adres (artikel 29A(1) en (2)).

Van groter belang is die feit dat die afkoelreg slegs van toepassing is indien:

  • die koper ‘n natuurlike persoon is (artikel 29A(5)(b)) (trusts is hier uitgesluit);
  • ‘n eiendom met ‘n waarde van R250,000 of minder (artikel 29A(5)(a)) (die bedrag kan van tyd tot tyd aangepas word deur die Minister);
  • Vir die eerste keer (artikel 29A(5)(d));
  • In sy persoonlike hoedanigheid (en nie as ‘n genomineerde nie) (artikel 29A(5)(e));
  • Vir privaat doeleindes (artikel 29A(5)(c));
  • hoofsaaklik vir bewoningsdoeleindes koop (artikel 1(d)).
  • Die grond nie op ‘n openbaar geadverteerde veiling gekoop word nie.
  • Die koop nie plaasvind in terme van ‘n opsie uitgeoefen waarvan die opsie periode minstens vyf (5) dae was nie.

Indien ‘n vervreemdingsakte ingevolge artikel 29A beëindig word, moet elke party wat enige bedrag van die koper ontvang het, die volle bedrag binne 10 dae vanaf die datum van kennisgewing aan die koper terug betaal.  Geen party is op enige vergoeding geregtig wanneer die vervreemdingsakte ingevolge artikel 29A beëindig is nie.

Natuurlik is dit moontlik dat enige kontrak om welke rede ookal voorsiening kan maak vir ‘n afkoelperiode ten gunste van een of beide van die partye.  By die aangaan van enige ooreenkoms is dit van kritieke belang om die inhoud van die ooreenkoms te ondersoek.  Lees alle ooreenkomste sorgvuldig, vra vir verduidelikings waar onsekerhede bestaan ten opsigte van die inhoud daarvan en kry advies ten einde u belange so goed moontlik te beskerm.

Indien u enige navrae het hierin, kontak Lorraine Oosthuysen by lorraine@fhbc.co.za.

Source Reference:

Wet op Verbruikersbeskerming (Wet Nr. 68 van 2008)
Nasionale Kredietwet (Wet Nr. 34 van 2005)
Wet op Vervreemding van Grond (Wet Nr, 68 van 1981).
Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming, JM Otto, LitNet Akademies Jaargang 9(1), Maart 2012
An Appraisal of a Consumer’s Coolling-Off Right in terms of Section 16 of the Consumer Protection Act 68 of 2008, J Barnard, UP, 2016 (79) THRHR (496)
Artikel 29A van die Wet op Vervreemding van Grond, Philip N Stoop, TSAR 2008.4 (ISSN 0257-7747)
Gowar Investments (Pty) Ltd v Section Three Dolphin Coast Medical Centre CC 2006 2 SA 15 (D); 2007 3 SA 100 (HHA)
https://cliffedekkerhofmeyr.com/en/news/press-releases/franchise-agreements-and-consumer-protection-act.html
https://www.polity.org.za/article/the-national-credit-act-how-the-right-to-a-coolong-off-period-is-limited-2019-03-08
https://legalex.co.za/cooling-off-periods-south-african-law/
https://www.millers.co.za/NewsResources/NewsArticle.aspx?ArticleID=2803
http:/www.growinggreatness.co.za/wp-content/uploads/2015/10/inligtingstuk-Wet-op-Verbruikersbeskerming.pdf
https:/prokureur.co.za/index.php/verbruikersreg