
Weens meer gevorderde mediese tegnologie raak mense ouer, maar weens die hoër ouderdomme neem die gevalle van dementia as persentasie van die bevolking toe.
‘n Persoon wat na aan jou is (gewoonlik ‘n ouer of ‘n tante of ‘n oom) benodig bystand met hul finansiële sake. Jou eerste gedagte is dat hulle ‘n volmag moet teken om vir ‘n verantwoordelike persoon of familielid as hul agent te benoem om namens hulle op te tree.
Dit kan ‘n spesiale volmag vir ‘n spesifieke en beperkte doel wees of dit kan ‘n algemene volmag met wyer magte wees.
Teen hierdie agtergrond ontvang ons ook al hoe meer navrae van kliënte wat beoog om ‘n volmag te laat teken deur ‘n ouer of ander familielid wat weens gevorderde ouderdom nie meer sy/haar eie sake kan behartig nie, of om voorsiening te maak vir ‘n ouer of familielid wat nie meer handelsbevoeg is nie.
Wat meeste mense en selfs meer ervare rolspelers nie besef nie is dat die volmag nie ewigdurend is nie en juis outomaties beëindig in die omstandighede waarvoor die dokument voorsiening moet maak.
Enige volmag verval onmiddellik by afsterwe en ook in die geval waar die persoon wat die volmag verleen het nie meer verstandelik in staat is om rasionele besluite te neem nie, m.a.w nie meer handelsbevoeg is nie.
Dit kan die gevolg wees van beroerte, ‘n koma na ‘n ongeluk, dementia, Alzheimers, geestessiekte, of ‘n algemene ouderdomsverwante vermindering in verstandelike begrip.
Dit is hierdie laaste opmerking wat mense nie korrek interpreteer nie. Dit klink net nie reg dat die volmag juis op daardie kritieke tydstip wanneer dit ooglopend nodig is, sal verval nie.
Dit is ongelukkig die regsposisie in ons land. “In Suid-Afrika bly ‘n volmag van krag vir solank as wat die volmaggewer insig het in die konsep van ‘n volmag en ten volle begrip het vir die gevolge daarvan om so ‘n volmag aan iemand anders te verleen.”
Daar is sekerlik baie gevalle waar partye onder ‘n volmag handel, lank nadat die betrokke volmaggewer reeds die vermoë verloor het om na hul eie sake om te sien.
Die nare werklikheid is egter dat daardie volmag regtens reeds outomaties verval het. Daar is dus ‘n wesentlike risiko dat die agent se besluite en optrede as ongemagtig verklaar kan word, indien dit bevraagteken sou word. Dit kan ook omvangryke professionele en persoonlike aanspreeklikheid vir die betrokke agent inhou.
Ons sal in volgende artikels fokus op die opsies wat daar bestaan in omstandighede waar ‘n persoon nie meer in staat is om sy/haar eie sake te hanteer.
Kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za met enige navrae of vir hulp.
