Anél Crous en Alyssa van der Merwe het 7 Augustus ’n vrolike Vrouedaggeleentheid by NorSA Community Care bygewoon, waar vroue se waardevolle bydrae tot gemeenskapswelstand gevier is.
Gedurende Augustus was baie van ons kollegas druk besig met voorlopige belasting. Om hulle gedurende dié besige tyd aan te moedig, het elke personeellid op 5 Augustus ’n klein “hou moed bederfie”- ontvang. Die bederfie kon gedurende Augustus by FEIT Koffie, wat gerieflik binne stapafstand van die kantoor geleë is, gebruik word.
Op Maandag 17 Augustus het Bernadette Laubscher as B-BBEE-konsultant by FHBC MAS (Pty) Ltd aangesluit. Ons het ook aan die einde van Augustus afskeid geneem van Rachelle Muller, Salaris- en Loonadministrateur, en Preüss le Roux, B-BBEE-koördineerder. Ons beste wense vergesel beide van hulle.
Op 1 September verwelkom ons lente, gevolg deur Sekretaressedag (Administrative Professionals’ Day) op Woensdag 2 September.
1 September is Lize Potgieter se eerste werksdag as Rekenmeester by FHBC (Wellington) (Pty) Ltd. Christelle Hugo sluit op 7 September as Boekhouer by die span aan.
Vrydag 4 September is Loslitdag en ons personeel sal weer in spanne volgens vanjaar se tema, “Beat as One – Rhythm Matters”, aantrek. Ons koop vanjaar ons amptelike Loslitdag-plakkers by Sunfield Home in Wellington. Dit beteken dat dié organisasie ook ’n gedeelte van die geld wat ingesamel word, sal ontvang.
Ons vertrou dat ons kliënte ook geïnspireer sal word om op Loslitdag ’n verskil in ons gemeenskap te maak. Hou gerus ons volgende nuusbrief dop vir foto’s van die dag se gebeure!
Weens Erfenisdag op Donderdag 24 September het die Direkteure besluit om Vrydag 25 September as spesiale verlofdag aan al die personeel toe te staan. Ons kantore sal dus gesluit wees en eers weer Maandag 28 September tydens gewone kantoorure open.






