Ons het in die laaste paar maande se artikels gefokus op die belangrikheid van Testamente en dat daar deeglik besin moet word oor wie as Eksekuteur van u boedel benoem word.
Dit is egter net so belangrik om gedurende u leeftyd pro-aktief op te tree om boedelprobleme te verhoed en die geweldige administratiewe en finansiële pyn in die geval van afsterwe vir u familie en naasbestaandes makliker te maak.
Hier is sommer net ‘n paar voorbeelde van stappe wat u kan neem om boedelprobleme uit te skakel of ten minste so ver moontlik te probeer beperk:
- Stel ’n geldige testament op
Laat u testament altyd deur ’n bevoegde kundige, soos ’n rekenmeester of betroubare fidusiêre instelling opstel, om te verseker die dokument voldoen aan alle wetlike vereistes en dat die dokument korrek onderteken en gedateer is.
- Bereken boedel-likwiditeit
Maak seker daar is genoegsame kontant beskikbaar in u boedel. Lewensversekeringspolisse wat direk aan die boedel uitbetaal, of polisse met genomineerde begunstigdes, kan help om onmiddellike kontantbehoeftes aan te spreek en te verhoed dat bates verkoop moet word om die boedel se administrasiekostes en eise teen die boedel te kan delg. Hier is dit raadsaam om ook kundige advies te kry en moontlik ook ‘n boedelontleding te oorweeg. Hierdie boedelplan sal alle kostes ter sprake by u afsterwe en die administrasie van u boedel verduidelik en duidelik uiteensit.
- Hersien u boedelplan gereeld
Dit is ook belangrik dat die boedelontleding waarna hierbo verwys word, tred moet hou met die veranderinge in u lewe en gereeld hersien behoort te word. Groot lewensgebeurtenisse soos die koop van eiendom, huwelik, egskeiding, die stigting van ’n besigheid, of die geboorte van kinders sal direkte invloede op u boedelplan en die inhoud van u Testament hê.
- Bewaar dokumente op ’n veilige, toeganklike plek
Baie individue doen alles reg en maak goeie voorsiening vir afsterwe, maar ons sien gereeld hoe die familie en/of Eksekuteur nie maklike toegang tot belangrike dokumente kan verkry nie, omdat niemand weet waar die belangrikste dokumente in bewaring geplaas was nie. Ons beveel aan dat kliënte ‘n lêer hou met die belangrikste dokumente, soos u oorspronklike testament, ID-dokument, huweliksertifikaat, titelaktes van enige onroerende eiendomme, lys van bates en laste en moontlik ook die wagwoorde en toegangskodes vir digitale bates of ander platvorms.
Kontak gerus vir Marius Vorster (mvorster@fhbc.co.za) of vir Morné van Niekerk (morne@fhbc.co.za) met enige navrae.
