Nog ‘n jaar is verby en baie van ons het om verskeie redes ‘n moeilike en uitdagende jaar beleef, dalk ‘n geliefde of geliefdes aan die dood afgestaan, uitdagings in moeilike werksomstandighede beleef of met moeite en groot opofferinge ‘n kind(ers) deur nog ‘n skooljaar gesweet.
Ja, ons almal is eintlik maar besiger as wat ons wil wees en tussen al die beplannings en verantwoordelikhede laat ons so maklik na om seker te maak dat die belangrikste beplanning(s) wat ons in ons lewe kan neem op datum is en ook op datum gehou word.
Dink gou mooi daaroor, almal het ‘n doel en tog ook ‘n doelwit in die lewe, ons werk om ‘n inkomste te verdien en vir onsself en moontlik ‘n gesin die beste moontlike versorging en geleenthede te bied. Ons werk sekerlik ook met ‘n plan om uiteindelik ‘n rustige en kommervrye aftrede te kan geniet. Ons weet egter ook dat niemand van ons vir ewig hier op aarde is nie, maar ons kan ook nie regtig rondom dit beplan nie.
Waaroor ons wel beheer het is om te verseker dat ons Testament op datum is en dat ons behoeftes korrek aangespreek word.
Dit is so ‘n belangrike dokument wat verseker dat dit waarvoor ons elke dag werk op ‘n geordende wyse verdeel word en dat ons spesifieke familie-omstandighede, behoeftes van die gesin en toekomstige bestuur van bates tot die beste voordeel van ons begunstigdes geadministreer word.
Daar is deesdae soveel belastings wat ‘n invloed op ‘n boedel kan hê en dit is dus uiters belangrik om voortydige berekeninge te doen ten einde te bepaal of u boedel wel oor voldoende fondse beskik om moontlike kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting en ook die administrasiekostes van u boedel aan te spreek.
Ons beveel aan dat Testamente ten minste 2 jaarliks nagegaan word en vir hersiening oorweeg word, of indien u omstandighede verander, byvoorbeeld egskeiding, huwelik of die geboorte van ‘n kind.
Ons ervaar ook gereeld dat individue wel iewers in hulle lewens die belangrikheid van ‘n Testament besef het of erns gemaak het met die opstel van ‘n Testament, maar omdat die dokument nie gereeld oorweeg was vir hersiening nie, of omdat die oorspronklike dokument nie noukeurig geliasseer was nie, word daar gereeld boedels by ons kantore gerapporteer, waarvan die oorspronklike Testamente nie opgespoor kan word nie.
Die gevolg is dat die boedel Intestaat sal vererf, wat sal beteken dat boedelbates volgens die Wet op Intestate Erfopvolging verdeel sal word, wat natuurlik drasties kan verskil van die beoogde verdeling van u boedelbates.
Die belangrikheid van ‘n deeglike beplande en op datum Testament kan nie genoeg beklemtoon word nie en ons wil ‘n beroep op u doen om tog maar u Testament hoog op u prioriteitslysie vir 2026 te plaas. Uitstel maak maklike dinge moeilik en moeilike dinge moeiliker!
Vir bystand om u Testament op te stel of te hersien, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za
