Die aanwasbedeling kan problematies word, ons verduidelik graag.
’n Paartjie wat ’n huwelikvoorwaardekontrak aangaan moet die aanwasbedeling uitdruklik uitsluit indien dit hulle bedoeling is dat dit nie op hulle huwelik van toepassing moet wees nie.
Wat is die aanwasbedeling? Dit beteken in kort dat die partye tot die huwelik kies om te deel in die groei van die twee boedels tot die beeïndiging van die huwelik, hetsy by wyse van een of albei partye se afsterwe of as gevolg van ’n egskeiding.
Indien die aanwasbedeling by die huweliksvoorwaardekontrak ingesluit word, kan elke party sy/haar bates met die aanvang van die huwelik verklaar sodat dit uitgesluit kan word van die aanwasberekening.
Die berekening van ’n aanwaseis begin deur die aanvangswaarde van elke party se boedel (soos in die huweliksvoorwaardekontrak vervat) met inflasie aan te pas. Hierna word die netto waarde van elke partye se boedel bepaal en die aangepaste aanvangswaarde daarvan afgetrek. Elke boedel se aanwas word dus afsonderlik bereken. Die boedel wat die kleiner groei getoon het, het dan ’n eis vir helfte van die groei van die boedel wat die groter groei getoon het.
Byvoorbeeld, indien die aanvangswaarde vir elke party se boedel R0 was, A se netto boedel R100,000.00 en B se netto boedel R20,000.00 is, is die groei in A se boedel R80,000.00 en het B ’n eis vir R40,000.00 teen A se boedel.
Dit kan problematies wees indien die party met die kleinste boedel eerste te sterwe kom en sy/haar boedel ’n eis teen die lanslewende gade het. ’n Manier om hierdie probleem te oorkom is dat die party met die kleiner boedel in sy/haar testament ’n bedrag gelyk aan die aanwaseis aan die langslewende gade bemaak.
Indien die party met die grootste boedel eerste te sterwe kom, kan ’n aanwaseis erflatings in die testament verminder of selfs uitwis. Om dit te voorkom, kan ’n bemaking aan die langslewende gade verwoord word om die aanwaseis in te sluit of die bemaking onderhewig wees daaraan dat die langslewende gade afstand doen van ’n aanwaseis. In laasgenoemde geval moet die erflating aan die langslewende gade gelyk of groter wees as die aanwaseis, andersins kan SARS donasiebelasting hef op die bedrag waarmee die aanwaseis die erflating oorskry.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.
