Ons het reeds in ’n vorige artikel hierdie gesprek gehad, maar het veral onlangs redelik baie navrae daaroor ontvang en daarom raak ons net weer aan ’n paar belangrike punte met betrekking tot u boedel.
Huwelike in die afwesigheid van ’n huwelikvoorwaardekontrak, word deur wetgewing as ’n huwelik binne gemeenskap van goedere geag.
Die boedels (bates en laste) van beide gades word saamgevoeg en vorm dus ’n gemeenskaplike boedel, waarvan elke gade ’n halwe onverdeelde aandeel besit. Die gemeenskaplike boedel van die gades sluit ook bates en laste (skuld) in wat gades reeds voor die datum van hulle huwelik op hulle name gehad het, tensy ‘n gade bates kragtens ’n testament wat dit spesifiek uitsluit van toekomstige of bestaande huwelike, vererf het.
Beide gades is gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir mekaar se skuld en moet dit dus by die afsterwe van die eersterwende, in die gemeenskaplike boedel afgelos of met die goedkeuring van die betrokke instelling waar die skuld aangegaan is, deur die nagelate gade oorgeneem word.
Byvoorbeeld, indien die vrou as eerssterwende geen bates besit nie, sal 50% van die man se bates weens die huwelik binne gemeenskap van goedere, asook die vrou (oorledene) se 50% aandeel in sy bates in die boedel ingesluit word, m.a.w. die volle waarde van al die bates wat slegs deur die man besit word, word as bates in die vrou se boedel ingesluit. Net so sal al die man se laste ook as eise in die vrou se boedel ingesluit word.
Die gevolg is dus dat die hele boedel onderhewig is aan Eksekuteursvergoeding, ten spyte van die feit dat die eiendom reeds in die man as langslewende se naam geregistreer was.
Die ekskeuteursbrief wat deur die Meester van die Hooggeregshof uitgereik word om die Eksekuteur(s) van die boedel aan te stel, verwys dan ook by name na die gemeenskaplike boedel van beide gades en handel die Eksekuteur(s) dus met die totale gemeenskaplike boedel. Die Eksekuteur(s) hanteer en verklaar dus elke bate ten volle, selfs al is dit slegs geregistreer in die langslewende se naam.
Die langslewende behou sy/haar halwe onverdeelde aandeel van die gemeenskaplike boedel en die oorledene kan dus slegs sy/haar halwe onverdeelde aandeel van die gemeenskaplike boedel kragtens sy/haar testament aan ‘n erfgenaam bemaak. Ongeag in watter gade se naam ’n bate geregistreer is, kan slegs helfte van die betrokke bate(s) dus deur ’n gade bemaak word.
Die hele bate(s) kan slegs uit die testament van die eersterwende aan ’n erfgenaam bemaak word indien beide gades hul halwe onverdeelde aandeel kragtens hulle gesamentlike testament saamsmelt, onderhewig aan ’n beperkte reg (soos byvoorbeeld ’n vruggebruik) ten gunste van die nagelate gade, en selfs dan moet die langslewende steeds ’n skriftelike en onherroeplike keuse by wyse van adiasie of repudiasie na die afsterwe van die eersterwende, uitoefen, om die samesmelting te bekragtig. Sou die langslewende egter op daardie stadium repudieer, met ander woorde besluit om nie met die samesmelting voort te gaan nie, behou hy/sy ‘n halwe onverdeelde aandeel in die betrokke bates, maar kan dan nie kragtens die testament vererf nie.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.