Voordat u kan besluit of u ‘n lewende wilsverklaring wil teken, moet u verstaan wat dit is.
In wese is ‘n lewende wilsverklaring ‘n dokument wat u onderteken dat as die tyd kom wanneer u nie vir uself kan praat nie, en u kunsmatig aan die lewe gehou moet word, dit u wens is om toegelaat te word om eerder te sterf.
Lewende wilsverklarings gaan dikwels voort om te sê dat as u pyn het, u graag van daardie pyn wil ontsnap, selfs as die medikasie wat aan u gegee word om die pyn te verlig, u uur van dood versnel.
Is ‘n lewende wilsverklaring egter geldig?
Die Nasionale Gesondheidswysigingswetsontwerp van 2018 het duidelike riglyne vir die geldigheid van lewende wilsverklarings voorgestel, maar niks daarvan was tot op hede in wetgewing verorden nie.
Wat hofuitsprake betref, was ’n lewende wilsverklaring redelik prominent in die saak van Clarke v Hurst 1992 2 SACR 676 (D), maar daar was nie ’n uitspraak oor die regsgeldigheid of afdwingbaarheid daarvan nie en sedertdien was daar geen ander hofbeslissing oor lewende wilsverklarings nie.
Die finale Konstitusie van 1994, wat die hoogste vlak van wetgewing in ons land is, behoort dit in die lig van die grondwetlike regte wat daarin vervat word, makliker te maak vir lewende wilsverklarings om in die toekoms as ‘n wettige en afdwingbare dokument erken te word.
In Suid-Afrika word genadedood nie erken nie en terwyl u die reg het om mediese behandeling te weier indien u oor u siektetoestand en die behandeling daarvoor ingelig is, is ‘n lewende wilsverklaring oor die algemeen van toepassing op ‘n tydstip wanneer u nie vir uself kan luister of praat nie. Dit is dus moontlik dat ‘n dokter kan besluit dat u spesifieke omstandighede voortgesette behandeling regverdig, ondanks die feit dat u ‘n lewende wilsverklaring onderteken het. ’n Dokter moet ook seker wees dat die pasiënt nie sedert die verlyding van die lewende wilsverklaring, van besluit verander het nie.
Dit is belangrik dat u ten tye van die verlyding van ’n lewende wilsverklaring, 18 jaar of ouer is en die nodige verstandelike vermoë daarvoor besit.
‘n Lewende wilsverklaring kan besluite oor lewe en dood onder omstandighede waar u nie meer vir uself kan praat nie, vir u naasbestaandes makliker maak omdat hulle weet dat dit u uitdruklike wens is om nie kunsmatig aan die lewe gehou te word nie en die betrokke dokter sal ook daarvan bewus gemaak kan word. Dokters vra ook dikwels in gevalle waar ‘n besluit geneem moet word om ‘n pasiënt te behandel of eerder gemaklik te hou, of die pasiënt ‘n lewende wilsverklaring onderteken het.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.