Inleiding
Wanneer erfgename in ‘n bestorwe boedel besluit om die eiendom uit die bestorwe boedel te verkoop, of waar daar nie genoeg kontant is om al die skuld en administrasiekostes in die bestorwe boedel te betaal nie, kan die aangestelde eksekuteur op instruksie van die erfgename die onroerende eiendom in die mark sit. Al die erfgename moet toestem tot die verkoop van die onroerende eiendom. Aangesien die eiendom uit ‘n bestorwe boedel verkoop word sal die koopkontrak onderhewig wees aan die Meester se toestemming tot die verkoop van die eiendom.
Die Meester se toestemming tot die verkoop van die eiendom
Die Akteprokureur moet ‘n aansoek by die Meester van die Hooggeregshof bring, sodat die Meester die verkoop van die eiendom in terme van Artikel 42(2) van die Bestorwe boedelwet, 66 van 1965 kan goedkeur. Hierdie aansoek bestaan gewoonlik uit die volgende dokumente:
- JM 33_42 aansoekvorm;
- Erfgename se oorspronklike skriftelike toestemmings dat die eiendom verkoop mag word;
- ‘n Gesertifiseerde afskrif van die koopkontrak;
- Die oorspronklike volmag wat by die aktekantoor ingedien gaan word waarin die eksekuteur die aktebesorger magtig om die eiendom oor te dra;
- ‘n Naasbestaande verklaring (indien nodig).
Indien ‘n erfgenaam minderjarig is, kan die voog van die minderjarige namens die minderjarige toestem, maar in so ‘n geval kan die Meester van die Hooggeregshof ‘n formele waardasie vereis as bewys dat die eiendom vir markwaarde verkoop word en dat die verkoop in die beste belang van die minderjarige is.
Wanneer die Meester die aansoek goedkeur, endosseer die Meester die volmag en besorg dit terug aan die aktesprokureur, waarna die volmag met die standaard oordragdokumente by die akteskantoor ingedien word vir registrasie in die koper se naam.
Na die eiendom oorgedra is in die aktekantoor
Die opbrengs van die verkoop van die eiendom word nie direk aan die erfgename uitbetaal na die oordrag geregistreer is nie, maar in die bestorwe boedelbankrekening wat geopen is en bestuur word deur die Eksekuteur. Die kontant sal dan deur die Eksekuteur na die advertensie tydperk (21 dae) van die Likwidasie- en Distribusierekening verstreke is, mits daar geen vertoë teen die rekening deur ‘n belanghebbende party gerig is nie, uiteindelik soos aangedui in die goedgekeurde Likwidasie- en Distribusierekening aan die erfgename uitbetaal word.
Dit is dus belangrik dat erfgename saamstem wanneer dit kom by die verkoop van ’n eiendom uit die bestorwe boedel.
Kontak gerus vir Elaine Breet (elaine@fhbc.co.za), Morné van Niekerk (morne@fhbc.co.za) of vir Marius Vorster (mvorster@fhbc.co.za) indien u enige navrae het.