Daar is ‘n bekende praktyk onder boedelbeplanners waarvolgens die testateur aangeraai word om sekere bates aan ‘n erfgenaam, gewoonlik die langslewende gade, te bemaak, onderhewig aan een of meer opeenvolgende vruggebruike.
Artikel 4(q) van die Boedelbelastingwet 45 van 1955 bepaal dat die netto belasbare waarde van ’n boedel met alle voordele aan die langslewende gade, verminder word. Die oorledene se boedel sal dus geen boedelbelasting betaal op die waarde van die vruggebruik ten gunste van die langslewende gade nie, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal egter hul deel met die beëindiging van die vruggebruik, wanneer die langslewende gade sterf, wil verhaal.
Die berekeninge word aan die hand van die volgende voorbeeld verduidelik:
’n Man wat buite gemeenskap van goedere getroud was, bemaak sy huis aan sy seun (ouderdom 26 jaar) onderhewig aan ’n vruggebruik ten gunste van sy vrou (ouderdom 60 jaar).
Waarde van die huis: R3,000,000.00
Ouderdom van die nagelate gade met haar volgende verjaardag: 61 jaar
Lewensverwagting soos per Tabel A: Faktor 7.25457 (18.04 jaar)
Die waarde van die vruggebruik is R3,000,000.00 X 12% X 7,25457 = R2,611,645.20 en die blooteiendomswaarde is dus R3,000,000.00 – R2,611,645.20 = R388,354.80
Die nagelate gade sterf 15 jaar later op ouderdom 76 jaar.
Waarde van die huis by tye van haar afterwe is R8,000,000.00.
Ouderdom van seun met sy volgende verjaardag: 42 jaar
Lewensverwagting van seun soos per Tabel A: Faktor 7.97844 (27.85 jaar)
Die waarde van die vruggebruik by beëindiging is die KLEINER van die volgende twee somme:
R8,000,000.00 X 12% X 7.97844 = R7,659,302.40
OF
R8,000,000.00 – R388,354.80 (Blooteiendomswaarde met die aanvang van die vruggebruik) = R7,611,645.20
Die lewensverwagting vir die berekening van ’n vruggebruik ten opsigte enige onnatuurlike persone (soos bv trusts) word oor 50 jaar bereken en sal dus ’n negatiewe impak op die vruggebruik beëindigingsom hê.
’n Tegniek wat met boedelbeplanning in die verwoording van ’n testament gebruik word, is ’n opeenvolgende vruggebruik vir ’n beperkte tydperk met die afsterwe van die vruggebruiker en word aan die hand van die volgende voorbeeld verduidelik:
Die feite in die somme hierbo bly onveranderd, behalwe dat die man in sy testament voorsiening maak vir ’n opeenvolgende vruggebruik aan sy dogter vir ’n periode van 1 jaar nadat sy vrou te sterwe kom.
Sy bedoeling daarmee was dat sy dogter, wat by tye van ondertekening van die testament nog finansieël afhanklik was van hulle en moontlik ook nog by tye van afsterwe van die nagelate gade, die tyd gegun word om op haar voete te kom en bekostigbare alternatiewe verblyf te vind.
Die waarde van die beëindiging van die vruggebruik by sy vrou se afsterwe word nou soos volg bereken:
R8,000,000.00 X 12% X 0,8929 (Tabel B) = R857,184.00
Die besparing in die vruggebruik beëindigingswaarde as gevolg van die opeenvolgende vruggebruik is dus R7,611,645.20 – R857,184.00 = R6,754,461.20. Daar behoort gevolglik, afhangende van die bates van die nagelate gade en met verrekening van die primêre korting (Artikel 4(A)(2)), nie in die nagelate gade se boedel enige boedelbelasting met die beëindiging van die vruggebruik betaalbaar te wees nie.
Alhoewel wysigings aan Artikel (5)(1)(b) op 1 Junie 2009 deur die Departement van Finansies voorgestel was om ’n einde aan opeenvolgende vruggebruike te bring, was dit later teruggetrek en tot op datum is daar nie wetgewing wat dit kon stuit nie.
Kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za, Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of Elaine Breet by elaine@fhbc.co.za met enige navrae of vir hulp.