fhbc_rocketmailer_nov_01_13In ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere is die boedels van die onderskeie gades saamgevoeg (insluitende bates en laste/skuld) in ‘n enkele gemeenskaplike boedel en is elkeen van die gades gelyke mededingende bestuurders van die gesamentlike boedel en het elkeen ‘n reg oor die beskikking oor die bates in die gesamentlike boedel.  Elke gade beskik oor ‘n halwe onverdeelbare aandeel in die gemeenskaplike boedel gedurende die bestaan van die huwelik.  Elkeen het dus die reg om ‘n verskeidenheid van regshandelinge aan te gaan ten opsigte van die gemeenskaplike boedel.  Maar, dit beteken nie dat ‘n gade oor ‘n onbeperkte of onbegrensde reg beskik om enige regshandeling na vrye keuse ten opsigte van die gemeenskaplike boedel uit te oefen nie. 

Hoofstuk 3 van die Wet op Huweliksgoedere, Wet Nr 88 van 1984 (hierna verwys as “die Wet”) handel spesifiek oor Huwelike Binne Gemeenskap van Goedere en word die regte van gades om regshandelinge of transaksies aan te gaan ten opsigte van die gemeenskaplike boedel, onderhewig gestel aan die bepalings soos voorgeskryf deur die Wet. 

Artikel 15 van die Wet lys die handelinge of transaksies ten opsigte van die gemeenskaplike boedel waarvoor toestemming nodig is van die ander gade.  In sekere gevalle moet skriftelike toestemming verleen word (soms selfs met getuies!) en in ander gevalle is mondelinge toestemming voldoende.  In sekere gevalle moet die toestemming voor die aangaan van die transaksie gegee word en in ander gevalle kan ‘n handeling of transaksie na die aangaan van die transaksie goedgekeur word, of daartoe toegestem word. 

Hier onder volg ‘n uiteensetting van die verskillende regshandelinge wat spesifiek deur die Wet aangespreek word met die ooreenstemmende toestemmingsvereistes wat deur die Wet gestel word: 

1. Geskrewe toestemming:

  • Vervreemding of beswaring van bates in die gemeenskaplike boedel, wat oorwegend gehou word vir beleggingsdoeleindes, soos byvoorbeeld, kunswerke, juweliersware, munte of seëls; 
  • Vervreemding, sessie of beswaring van versekeringspolisse, verbandlenings, vaste deposito’s, aandele of enige van die ander gade se beleggings gehou in ‘n finansiële instelling; 
  • Die onttrekking van fondse vanuit enige rekening gehou in die naam van die ander gade. 

In die bogemelde gevalle moet die ander gade skriftelike toestemming verleen, welke toestemming gegee kan word nadat so ‘n handeling of transaksie reeds gedoen is. 

2. Geskrewe toestemming met die medewerking van twee getuies:

  • Die vervreemding van onroerende eiendom , soos byvoorbeeld  ‘n huis of ‘n plaas wat behoort aan die gemeenskaplike boedel;
  • Die aangaan van enige kredietooreenkoms in terme van die Nasionale Krediet Wet (Nr 34 van 2005);
  • Die aangaan van enige ooreenkoms vir die aankoop van enige onroerende eiendom. 

Hier is dit dan as ‘n vereiste gestel deur die Wet dat die ander gade toestemming moet gee vir die plaasvind van bogemelde transaksies en moet sodanige toestemming op skrif wees en die toestemming moet ook onderteken word deur twee getuies.  In hierdie gevalle mag sodanige toestemming gegee word na die aangaan van die transaksie, maar moet die toestemming binne ‘n redelike tyd na die aangaan van die transaksie gegee word. 

3. Vooraf geskrewe toestemming met die medewerking van twee getuies:

  • Die aangaan van enige borgooreenkoms, waar die een gade die gemeenskaplike boedel as ‘n borg verbind vir die skuld teenoor ‘n derde party;
  • Die werklike vervreemding of beswaring van onroerende eiendom wat aan die gemeenskaplike boedel behoort, of die werklike toekenning van regte oor sodanige onroerende eiendom (met ander woorde die verkoop (oordrag) van, of die ‘gee’/oordrag van ‘n aandeel in sodanige eiendom). 

Op die oog af blyk dit dat daar ‘n oorvleueling van transaksies is onder paragrawe 2 en 3 ten opsigte van die vervreemding van onroerende eiendom.  Die Wet bepaal spesifiek dat daar by enige transaksie wat in die Akteskantoor geregistreer moet word, vooraf geskrewe toestemming moet wees.  Finale kontrakte in eiendomsoordrag transkasies sal dus deur beide gades onderteken moet word alvorens registrasie van die transaksies in die akteskantoor kan plaasvind. 

4. Mondelinge toestemming: 

Natuurlik is daar dan ook sekere regshandelinge of transaksies waarvoor slegs informele toestemming van die ander gade vereis word en is mondelinge toestemming in sulke gevalle voldoende.  Transaksies of handelinge waarvoor slegs informele toestemming vereis word is: 

  • Die ontvangs van fondse betaalbaar aan die ander gade, welke fondse afkomstig is van:
    • Erflatings, donasies, kompetisie winste;
    • Vergoedings, bonusse, toelaes, verdienstes, pensioengelde, ‘n som geld ontvang as dank vir dienste gelewer uit hoofde van die gade se professie, ambag of besigheid, of skadevergoeding toegeken vir die verlies van inkomste van enige van die voormelde bronne;
    • Inkomste vanaf die ander gade se uitsluitlike eiendom, byvoorbeeld huurgeld verdien deur die verhuring van ‘n onroerende eiendom; 
    • Dividende of rente inkomste verdien op beleggings in die naam van die ander gade;
    • Uitbetalings van versekeringspolisse;
  • Die vervreemding of beswaring van (verkoop of pand) van gewone huishoudelike meubels of ware; en
  • Donasies/skenkings gemaak vanuit die gemeenskaplike boedel en waar sodanige donasie die belange van die ander gade onredelikerwys benadeel, soos byvoorbeeld die skenking van meubels gehou binne die gemeeskaplike boedel. 

Hoekom is hierdie inligting belangrik?

Wanneer ‘n gade, getroud binne gemeenskap van goedere, ‘n transaksie sluit met n derde party, sonder die nodige toestemming van die ander gade, word daardie derde party beskerm deur die Wet.  Dit beteken dat ‘n transaksie afdwingbaar kan wees deur die derde party teen die gemeenskaplike boedel selfs al is die nodige toestemming vir die aangaan van die transaksie nie verkry deur die gade nie. 

Daar word bepaal in artikel 15(9) van die Wet dat waar so ‘n transaksie sonder die nodige toestemming met ‘n derde party gesluit is, en daardie derde party nie weet of redelikerwys van verwag kan word om te weet, dat die transaksie aangegaan word sonder die nodige toestemming nie, daar geag word dat die nodige toestemming wel gegee is. 

Die Wet bepaal verder dat waar die gade nie die nodige toestemming verkry het nie omdat hy gedink het die toestemming  geweier sou word deur die ander gade of toestemming gegee teruggetrek is, en waar die gemeenskaplike boedel skade lei as gevolg van die transaksie, ‘n aanpassing in die verdeling van die gemeenskaplike boedel gemaak sal word ten gunste van die ander gade by die uiteindelike verdeling van die gemeenskaplike boedel by ontbinding van die huwelik. 

Die vraag is dan nou: moet u as die derde party elke keer wanneer u ‘n transaksie aangaan vra of die ander party binne gemeenskap van goedere getroud is? 

Geen so ‘n verwagting word deur die Wet geskep nie.  Met ander woorde, die Wet plaas nie ‘n verpligting op ‘n derde party om navraag te doen na die huwelikstatus van die ander party tot ‘n transaksie nie.  Waar u as ‘n derde party bewus is daarvan of vermoed dat ‘n persoon moontlik binne gemeenskap van goedere getroud is, sal dit raadsaam wees om die relevante navraag te rig en te verseker dat die nodige toestemmings verkry is en aan die vereistes van die wet voldoen is deur die gades, wanneer ‘n transaksie dan aangegaan word.

In die onlangse uitspraak in die saak van Broodie NO v Maposa and others 2018 (3) SA 129 (WCC) het die Hof bevestig dat daar nie altyd ‘n positiewe plig op die derde party rus om navraag te doen na die huwelikstatus van die ander party nie, maar dat dit wel vereis kan word in sekere gevalle en sal die vereiste afhang van die eiesoortige omstandighede van elke geval.  

In die bogemelde uitspraak het die Hof die volgende voorgehou: 

  • Artikel 15(9) bied beskerming aan die derde party indien toestemming in ‘n transaksie ontbreek soos hierin bedoel, waar die derde party nie geweet het dat die gade binne gemeenskap van goedere getroud is nie en dat hierdie onkunde verstaanbaar en toelaatbaar is/was onder die omstandighede. 
  • Artikel 15(9) plaas nie ‘n verpligting op die derde party om in elke geval navraag te doen na die huwelikstatus van die ander party nie.  Indien dit ‘n vereiste sou wees sou dit die bedoeling van Artikel 15(9) negeer.  Indien dit ‘n verpligting sou wees, sou daar van ‘n derde party verwag word om navraag te doen na die huwelikstatus van die ander party in elke beoogde transaksie soos bedoel in artikel 15 (2) en (3) van die Wet, en ‘n huweliksertifikaat aan te vra, of by die gade/party tot die ooreenkoms, of by die Department van Binnelandse Sake.  So ‘n vereiste sou ‘n belemmerende en frustrerende effek hê op besigheid in die algemeen, sowel as op die bemagtigende bepalings van die Wet (wat die afskaffing van maritale mag van die man oor die vrou in artikel 11 van die Wet daarstel) ten gunste van veral vrouens getroud binne gemeenskap van goedere. 

Met hierdie inligting op hande, is dit dus raadsaam vir ‘n derde party om in gevalle waar hy of sy sou twyfel oor die huwelikstatus van die ander party, die nodige navrae te rig, veral in die geval waar geskrewe toestemming van die ander gade ‘n vereiste tot die aangaan van die transaksie is.  Waar ‘n transaksie beoog word waar beswaring van eiendom in die vooruitsig gestel word, of waar die onderwerp van enige transaksie onroerende eiendom is, behoort die partye seker te maak van die huwelikstatus van die partye tot die transaksie en in geval waar een of meer van die partye binne gemeenskap van goedere getroud is, te verseker dat die nodige toestemmings tot die transaksie verkry word. 

Vir verdere navrae hierin kontak gerus vir Lorraine Oosthuysen by lorraine@fhbc.co.za.