DOEN U BESIGHEID MET BUITELANDSE PARTYE? DRIE KERNREËLS VAN “TRANSFER PRICING” WAARVAN U MOET WEET.

fhbc_nov_rocketmailer_01_07

Dryf u handel met ‘n buitelandse maatskappy/ander entiteit? Indien u antwoord ja is op die vraag, mag die konsep van “transfer pricing” ter sprake wees indien u maatskappy op een of ander manier verwant is aan die ander party(e).
Die drie kernreëls is vervat in artikels 1 en 31 van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 (hierna die “IBW”) en kan as volg opgesom word:

  1. Hoe word die verkoopsprys bepaal vir die goedere/dienste in terme van die internasionale transaksie?

    Gestel die pryse is markverwant, wat beteken dat dit voldoen aan die armlengte beginsel (soos vereis word in terme van artikel 31(1) van die IBW) – is dit nie eens verder nodig om die transaksie te bevraagteken nie, aangesien die partye se onderskeie regerings hul volle belasting wat aan hul verskuldig is, ontvang. Hierdie is die crux van die “transfer pricing” reëls.

  2. Wat gebeur indien die pryse nie voldoen aan die armlengte beginsel nie?

    Indien die pryse nie voldoen aan die armlengte beginsel nie, word die geaffekteerde transaksie blootgestel aan artikel 31(2) van die IBW. Laasgenoemde maak voorsiening vir ‘n primêre aanpassing waar die bedrag (verkoopsom) soos ingesluit by die Suid-Afrikaanse maatskappy se belasbare inkomste, aangepas/herbereken sal word asof die transaksie aangegaan is in lyn met die armlengte beginsel. Dit beteken dat die inkomstebelasting betaalbaar verhoog.

    Bykomend, is daar ook ‘n sekondêre aanpassing soos uiteengesit in artikel 31(3) van die IBW waarvolgens die aanvanklike prys vergelyk word met die aangepaste prys (soos in terme van die artikel 31(2)-primêre aanpassing-reël). Die verskil tussen die twee genoemde pryse word dan belas met dividend- of skenkingsbelasting. Laasgenoemde word toegepas deur die heffing van ‘n geagte dividend, wat bestaan uit: óf ‘n distribusie van ‘n bate in specie – in die geval van ‘n maatskappy óf ‘n geagte skenking in die geval van ‘n persoon anders as ‘n maatskappy. Die effek is dat daar 20% dividende belasting gehef word in die geval van ‘n maatskappy en indien die verwante persoon nie ‘n maatskappy is nie, maar byvoorbeeld ‘n natuurlike persoon – word daar in terme van artikel 64 skenkingsbelasting van 20% op die geaffekteerde transaksie gehef.

  3. Neem kennis van die wye definisies van “verwante party(e)” en “geaffekteerde transaksie”.

    Die twee bogenoemde begrippe word spesifiek gedefinieer in artikel 1 van die IBW en sluit meer as net fisiese “verwante partye/persone” in. Daar word ook gekyk na skemas, ooreenkomste en die werking van die transaksies tussen verwante partye. Dit is dus baie belangrik om ‘n deeglike analise te doen tussen die verskeie transaksies rakende ‘n Suid-Afrikaanse belastingbetaler (maatskappy/individu) en buitelandse maatskappye. Dit is om te verseker dat alle interaksies (hetsy dit goedere of dienste was wat gelewer of verkoop was) geskied teen betaling wat in lyn is met die verwante markprys(e). Derhalwe, moet daar bevestig kan word dat daar byvoorbeeld nie dienste/goedere verskaf is sonder vergoeding nie.

Ten slotte. Hierdie opsomming van die drie kernreëls van “transfer pricing” dien as ‘n riglyn om die inhoud van artikel 31 te vergelyk en toe te pas met die werking van buitelande transaksies.

Kontak gerus vir Chantél Coetzee met enige navrae: c.coetzee@fhbc.co.za

Source Reference:

Inkomstebelastingwet 58 van 1962